Maar dit het ’n moderne kinkel: Dié vir-ewig-saam-storie het op Twitter ontstaan. Die warrelwinddromanse het in 2012 begin toe Victoria Carlin namens die Waterstones-boekwinkel ’n twiet oor Pokémon beantwoord.

Danksy dié Londense winkel se gereelde pittighede het die jong boekwurm ’n bietjie verlief geraak op wie ook al die rekening beman. “Ek het met ’n vertoning getoer en die twiets het my regtig laat giggel,” het Victoria, ’n sirkuskunstenaar, aan Metro gesê.

Lees ook: Man se liefdestaak om sy vrou weer te sien glimlag

“Dit was altyd aktueel en slim en ek het dit gedurig hertwiet,” vertel die skrywer en vervaardiger. “Dit was regtig die toon van sy twiets wat in my tydlyn verskyn het. Ek het gehou van hoeveel van ’n wêreld hy met die rekening geskep en hoe die boekwinkel op aktuele sake reageer het,” het sy gesê. MailOnline. Eindelik het sy na haar hart geluister en getwiet: “Wel, ek is verlief op wie ook al die rekening van Waterstones Oxford Street beman. Bedaar, my kloppende hart.”

Die man agter die bekoorlike rekening, ene Jonathan O’Brien, sê Victoria se twiets was niks nuuts nie. “Ek het al ’n taamlike paar huweliksaanbiedinge of liefdesverklarings gekry. En vreemd professioneel vir ’n man in sy middel 20’s wat gereeld aanbiedinge kry, het ek ’n reeks antwoorde gereed gehad. ‘Jammer, ek is reeds met die boeke getroud.’ Daardie soort ding,” het hy aan People gesê.

Maar Victoria het met haar geflirt op Twitter volgehou. En toe Jonathan eendag twiet hy is lus vir oliebolle, het sy tot aksie oorgegaan. “Ek het ’n paar uur vry gehad. Ek het geweet waar die oliebolwinkel is. Toe gryp ek ’n boks en storm na die boekwinkel,” sê sy. Sy het die geskenk by die boekwinkel afgelewer en toe basies weggehardloop.

Lees ook: Dié hawelose se liefdesverhaal sal jou weer in feëverhale laat glo “Eers het ek gedink dis ’n bietjie vreemd, maar toe besef ek ek het oliebolle, wat baie gehelp het om my bekommernisse te besweer. Dit druis in teen alles wat ek op skool oor vreemdelinge geleer het,” sê Jonathan. Toe vra hy haar uit. Die twee is vir hul eerste afspraak na ’n skemerkelkkroeg in Londen – en die res is geskiedenis.

Die twee het vroeër dié maand tydens ’n ongewone plegtigheid afgehaak. “Ons kan steeds nie glo ons is toe getroud nie,” sê Victoria. “Ek dink ek het van vroeg af al geweet dit gaan iewers heen. Alles was so maklik. Ons het albei van werk verander en het mekaar ondersteun.” Victoria het die vreugdevolle nuus met ’n bekende reël uit Jane Eyre met haar Twitter-volgelinge gedeel. “Leser, ek het met hom getrou,” het sy geskryf by ’n foto van hul troudag – saam met die 2012-twiet waarin sy haar liefde verklaar.

Die twiet is 27 000 keer gedeel en van gehou en vele volgelinge het die pasgetroudes gelukgewens.

“Dit was baie onverwags. Dis baie lekker om te sien so baie mense is bly vir twee vreemdelinge op die internet,” sê Jonathan. “Ons is verstom oor die reaksie, veral aangesien die nuus onlangs so grusaam was,” sê Victoria.

Ons hoop die storie het al die hopelose romantici se geloof in die liefde herstel!

Bronne: Metro, MailOnline, Twitter