“’n Mens is kwaad,” het ’n 55-jarige vrou wat onlangs met ’n besemstok verkrag is, ná die gru-aanval en aanranding gesê.

[caption id="attachment_161478" align="alignnone" width="600"]Foto ter illustrasie Foto: Flickr.com Foto ter illustrasie Foto: Flickr.com[/caption]

Sy het Donderdagaand 16 Februarie reeds geslaap in hul huis in Settlers, toe sy voel iemand gryp haar aan haar voete. Sy skat dit moes tussen 20:00 en 21:00 gewees het. Sy het skaars bewus geraak van vreemde mans in haar kamer, toe een haar met ’n harde voorwerp bewusteloos slaan.

Die vrou en haar man, wat die instandhoudingsbestuurder van ’n landbouskool is, woon reeds 10 jaar in ’n huis op die skoolterrein.

Sy was alleen tuis terwyl haar man in Polokwane was nadat hy sy motor laat hersien het.

“Hulle het my wakker geklap,” het die vrou gesê. Toe sy weer bykom kon sy voel sy het seer. Sy was vasgebind en het besef ’n besemstok is in haar privaatdele opgedruk. Haar skoonsuster, wat haar later dieselfde aand so gevind het, het haar gehelp om die stok uit haar te trek.

Sy begin huil toe sy vertel hoe kwaad die voorval hulle gemaak het. “’n Mens is kwaad, my man (55) is verskriklik kwaad.”

Haar selfoon is stukkend gegooi en haar flitslig stukkend getrap, maar niks is gesteel nie. Die misdadigers het die huis se agterdeur afgehaal om toegang tot die huis te verkry. “Ons Jack Russell is nogal kwaai, maar die hond het nie eens geblaf nie,” vertel die vrou.

“Ek dink dit (die voorval) dring nou eers tot my deur.”

Sy en haar man ontvang albei berading.

Dr. Naledzani Rasila, woordvoerder van die onderwysdepartement, sê in reaksie die reg moet sy gang gaan. Hy sê hulle hoop die oortreders sal spoedig vasgetrek word en het ’n beroep op die gemeenskap gedoen om na vore te kom indien hulle enige inligting oor die voorval het.