Cheryl Treadway se kêrel, Ethan Nickerson, het haar teen haar sin aangehou. Hy het geweier dat sy die huis verlaat of ’n foon gebruik. Terwyl hulle gestry het, het hy ’n mes begin slyp en het sy vir haar veiligheid begin vrees.

Ethan het Cheryl (26) later toegelaat om kos te bestel nadat sy hom oorreed het om haar die selfoon te laat gebruik. Sy het Pizza Hut se aanlyn app gebruik en ’n pepperoni-pizza bestel waarby sy geskryf het: “Help my, asseblief. Bel 911. Gyselaar. Help!”

Personeel by die Avon Park-tak in Florida het Cheryl, ’n gereelde klant, se naam herken en dadelik die polisie gebel, wat haar gered het. Met hul aankoms het Cheryl met ’n baba in haar arms die huis uitgevlug en vir die polisie gesê haar kêrel is met ’n mes gewapen.

Ethan (25) het eers geweier om hom oor te gee en gesê hy wil nie tronk toe gaan nie. Hy is aangekla van ernstige aanranding en onwettige aanhouding. Die polisie vermoed hy was onder die invloed van tik.