Resham Khan en Jameel Muhktar, haar 37-jarige neef, het op die oggend van 21 Junie, op haar 21ste verjaardag, deur Beckton in die ooste van Londen gery toe hulle by ’n verkeerslig stilhou. 

Resham het erge skade aan haar gesig opgedoen. Foto: GoFundMe

’n Onbekende man het na die motor gehardloop en suur deur die oop ruit gegooi.

Hulle het weggejaag, maar die pyn het vir Jameel te veel geword en hy het beheer oor die motor verloor. 

“Die pyn was folterend,” het Resham, ’n student in sakebestuur wat op die punt was om met ’n nuwe werk te begin, aan ITV gesê. “Ek het my klere voor my sien wegbrand.”

Hulle moes noodgedwonge al hul klere uittrek en het deur die strate gehardloop en om hulp en water gesmeek. 

’n Verbyganger het stilgehou en hulle na ’n nabygeleë hospitaal geneem. 

So het Resham voor die suur-aanval gelyk. Foto: GoFundMe

Resham, wat toe pas van ’n uitruilprogram van nege maande in Ciprus teruggekeer het, moes veloorplantings aan haar gesig ondergaan. Sy het oor haar hele lyf brandwonde opgedoen.

Jameel het sulke ernstige brandwonde opgedoen dat hy in ’n koma geplaas moes word.

Ná die aanval het Resham die beproewing op Twitter gedeel. 

“Ek is baie dankbaar teenoor almal wat vir my gebid het. Ek voel ek is geseënd om my ledemate en sintuie te hê. Maar ek was lief vir my gesig en lyf,” het sy getwiet.

Sy voeg by sy wil net hê geregtigheid moet geskied. 

“Ek wil net hê die ou moet gevang word. Ek vra myself heeltyd af hoekom hy nie vasgetrek is nie. Ek hou aan wonder hoekom dit so lank neem. Het hulle van ons vergeet?

“Ek het net so baie vrae. Hoekom het die ambulans te lank gevat? Hoekom het hy dit gedoen? Hoekom het die polisie nie ’n verklaring afgeneem nie?”

Intussen het een van die 21-jarige se vriende ’n GoFundMe-blad begin met die hoop om die twee hul lewe te help herbou.

“Die aanval het albei hul lewe laat uitstel,” skryf Daniel Mann, wat die blad opgestel het.

Bronne: dailymail.co.uk, gofundme.com, itv.com