Pia Farrenkopf, wat in die IT-bedryf gewerk het, se familie en vriende het haar afwesigheid aan haar eenkant geaardheid toegeskryf.

Pia (44) het nege sibbe gehad en ’n familielid het haar selfs in 2012 tevergeefs probeer bel om vir haar te sê haar ma is dood.

Haar laaste bekende aktiwiteit was toe sy op 25 Februarie 2009 sowat R16 000 uit haar tjekrekening onttrek het.

Briewe het met die verloop van die jare in die posbus by haar huis in Pontiac, Michigan, opgehoop. Die pos is later na die poskantoor teruggeneem as onopgeëis, berig die Daily Mail.

[caption id="attachment_97067" align="alignnone" width="620"]Fotobron: Facebook Fotobron: Facebook[/caption]

Die paaiemente vir Pia se huislening is egter steeds outomaties uit haar bankrekening betaal.

Toe die geld in haar rekening in 2013 opraak, het die bank haar verband herroep.

In 2014 het die verbandhouer twee nutsmanne aangestel om ’n gat in die huis se dak te herstel en dié twee het op haar lyk afgekom.

Haar gemummifiseerde lyk het vooroor op die agtersitplek van ’n Jeep in haar garage gelê.

Haar geliefdes sê sy was nie juis sosiaal nie en hulle het lang tye nie van haar gehoor nie.

Volgens die polisie was daar geen trauma aan die lyk nie, wat tot twee gevolgtrekkings lei – dit was ’n mediese situasie of sy het haarself iets aangedoen.

Die ondersoekers het koolstofmonoksiedvergiftiging uitgeskakel, want haar motor het glo nog sewe liter brandstof ingehad.

Haar lyk was so erg gemummifiseer dat ’n toksokologieverslag onmoontlik was.

Bronne: Daily Mail, News.com.au, Daily Mirror