Om in ’n hyser vas te sit is ontstellend, veral as jy engtevrees kry.

Maar ’n hele gemeenskap in China is onlangs geruk deur die nuus van ’n vrou wat weke lank alleen in ’n hysbak weggekwyn het. Sy het haar later beseer in ’n wanhopige geworstel om haar te bevry, terwyl die blykbaar nalatige werkers wat haar daar gestrand gelaat het, vakansie gehou het.

Krapmerke in die hysbak het van ’n ondenkbare lot gespreek.

“Die toneel was onmenslik,” het ’n bewoner van die woonstelblok in die stad Xi’an suidoos van Beijing aan die Chinese media gesê. Volgens ooggetuies was die 43-jarige vrou se hande erg vermink weens haar desperate pogings om te ontsnap.

Die slagoffer, tot dusver is net haar van, Wu, bekend, het vermoedelik van dors en honger omgekom nadat ’n span tegnici wat ’n probleem met die hyser moes uitpluis, bloot die krag op 30 Januarie afgeskakel het en toe vort is vir China se Nuwejaar.

Dis ’n aantal openbare vakansiedae wat vroeg in Februarie begin het. Werkers las egter dikwels verlof by dié blaaskans aan. Die werkers het eers begin vandeesmaand na die woonstelblok teruggekeer, waar hulle deur die grutoneel begroet is.

Lees ook: ‘Sy was pragtig van binne en buite’: Franziska se verslae ouers bied groot beloning aan vir inligting

Hulle word nou aangehou en kan volgens die Xi’an-polisie weens “onwillekeurige manslag” vervolg word.

“Daar was krapmerke aan die deure, oor die hele binnekant van die hysbak. Dit was net te aaklig,” het ’n ontstelde woonstelbewoner vertel. Die werkers se verweer was glo dat hulle ’n slag buite die hysbak “geskree” het om vas te stel of daar iemand binne is.

Maar hulle was uiteraard veronderstel om binne-in te kyk.

Die vrou het blykbaar alleen gewoon. China het ’n twyfelagtige rekord rakende veiligheidspraktyke, en in die besonder met hysbakke en roltrappe. Dié tragedie was een van ’n rits sulke ongelukke wat betreklik onlangs daar aangemeld is.

By die Huaqiao-universiteit in die stad Xiamen is ’n student dood toe ’n foutiewe hysbak boontoe geskiet het net toe hy inklim en hy tussen die hyservloer en die boonste deurraam vasgepen is.

Noodwerkers het vergeefs daarheen gehaas; hy het versmoor nadat sy longe vergruis is.

In nog ’n opspraakwekkende geval is Xiang Liujuan (30) in die ratwerk van ’n roltrap in ’n Jingzhou-winkelsentrum ingetrek. ’n Los metaalplaat aan die bokant van die trap het onder haar en haar seuntjie meegegee.

Lees ook: Afrikaanse werklikheidstelevisie-deelnemer sterf: ‘Sy was my rots en my held,’ vertel sussie

Terwyl die trap haar ingetrek het, het sy haar kind na veiligheid gegooi tot in die arms van ’n winkelassistent wat toevallig daar naby gestaan het. Winkelpersoneel het haar probeer help, maar sy was binne sekondes buite hul bereik.

Miljoene sosialemedia-gebruikers het daarna die gebrekkige instandhoudingswerk verdoem, maar ook hulde aan Xiang gebring: “Dit was aaklig om haar daar te sien inval, maar ek het ook die krag van haar moederliefde gevoel,” het een gesê. “Haar eerste reaksie in haar ontsettende oomblik was om haar kind se veiligheid te verseker.”

Luidens ’n regeringsverslag het tienduisende van China se verouderende roltrappe en hysbakke “veiligheidskwessies”. Daar was selfs berigte oor “hysbak-bedrog”, waar nagemaakte modelle van goedgekeurde handelsmerke verkoop is. Oorwerkte tegnici vervals glo ook soms instandhoudingsverslae.

Die nadelige invloed van korrupsie op veiligheidsregulasies en -standaarde is ’n algemene probleem in China.

– Richard van Rensburg

Bronne: Associated Press, China Daily, Xinhua, The Guardian, LA Times

Ander stories op Huisgenoot.com:

‘Sy is ’n seën van God,’ sê pa van ses wat weggooikind aanneem

Jeanine Victor se Shaun-Michael kry ’n sussie met die mooiste naam!

‘Ek hoop hy weet hoe baie ek hom mis,’ sê Madonna ná sy toesigstryd oor Rocco gewonne gee

Vierjarige seun van Roodepoort gee eerste treë op herstelpad