’n Britse vrou het ’n klag ingedien teen ’n vriendin wat haar verlei en twee jaar lank ’n verhouding met haar gehad het terwyl sy voorgegee het sy is ’n man.

Die klaagster, wat naamloos wil bly, beweer Gayle Newland het haar met ’n vals Facebook-rekening verlei en tydens hul hofmakery van twee jaar selfs met ’n prostetiese penis met haar seks gehad.

Gayle word in Cheshire in Brittanje verhoor en betwis die vyf aanklagte van seksuele aanranding teen haar.

Gayle het ’n vals Facebook-rekening, Kye Fortune, gebruik van ’n half-Filippyns, half-Latyns-Amerikaanse man wat ’n motorongeluk en kanker oorleef het.

Sy het vir die klaagster ’n vriendskapsversoek gestuur. Hulle het gereeld vir mekaar teksboodskappe gestuur en oor die foon gepraat.

Die klaagster het Kye se stem as “hoog” beskryf. Die verhouding het ernstiger geword en die twee het besluit om mekaar te ontmoet.

“Hy het gesê ek het hom baie deur sy siekte ondersteun. (Hy het gesê) dit was ’n teken. Ons moes trou; ons moes kinders hê. Ons sou allerhande goed gedoen het.”

Die klaagster en Kye het mekaar eindelik in ’n hotel ontmoet. Volgens berigte was Gayle se voorwaarde dat die klaagster ’n blinddoek dra, want Kye was “ansgtig oor sy voorkoms”. Die twee het toe intiem verkeer terwyl Gayle na bewering ’n prostetiese penis gebruik het.

Die twee het nog hotelbesoeke geniet voor die klaagster die waarheid ontbloot het. Die verskriklike onthulling het die slagoffer verraai en verkrag laat voel.

“Mense word deur mans verkrag, en dit klink siek, maar ek dink ek sou dit verkies het. Ek dink aan al die goed wat ek haar aan my laat doen het, soos voorspel, en dit laat my siek voel.”

Maar Gayle beweer die klaagster het eintlik geweet sy is ’n vrou. Gayle het aan die hof gesê hulle het “die een of ander fantasie uitgeleef” dat sy Kye was. Die twee het mekaar glo in 2011 die eerste keer ontmoet en Gayle het aan die slagoffer erken sy is ’n lesbiër. “Ek het gedink sy is aantreklik en sy het baie borrelend gelyk,” sê Gayle oor die klaagster. “Sy het vir my gevra of ek gay is en ek het gesê ja, maar ek hang dit nie aan die groot klok nie.” Gayle beweer ook die klaagster het aan haar erken sy is ook lesbies, maar “kon dit amper nie aan haarself erken nie”. Die hofsaak duur voort.

Bronne: dailymail.co.uk, telegraph.co.uk