Die vrou, net bekend as Emilia L, was besig om in die vlak water net ’n paar meter van die kus te snorkel. Sy is deur die seilplankryer op sy seilplank getref toe sy na die oppervlakte teruggekeer het. Haar keel is oopgesny en Emilia het binne oomblikke doodgebloei.

Die seilplankryer, ’n 41-jarige man van Swede, is in die hospitaal opgeneem waar hy vir skok behandel word. Sy naam is nie bekendgemaak nie.

Oogetuies het plaaslike mediabronne vertel dat die seilplankryer wel teen ’n hoë spoed geseil het, maar dat hy in die afgesperde gebied was waar plesiersport beoefen mag word.

Mediese personeel het vergeefs probeer om die vrou te red toe sy kort na die voorval na die kus gebring is.

Die ongeluk het by Playa de Cueva Laya naby die stad Santa Lucia gebeur.

Die polisie hanteer die saak as ’n tragiese fratsongeluk en geen vuilspel word vermoed nie.

Bronne: Daily Mail; Metro