Die twee, van Tennessee in Amerika, het na die volmaakte verloofring begin soek.

“Ek het nie eens aan ringe gedink nie, ek wou net met my beste vriend trou, maar hy wou niks hoor nie,” vertel sy in ’n roerende plasing op Facebook post.

Al “het hy nie veel nie”, het ’n vasbeslote Quinn “net genoeg geld bymekaargeskraap” om vir haar twee bypassende ringe by die juweliers-kleinhandelaar Pandora te koop.

Lees ook: Verlore trouring vind ná ’n kwarteeu sy pad terug huis toe

“Sterling silwer en CZ [kunsdiamant] om presies te wees. Dis wat aan my ringvinger pryk en ek is dolverlief daarop.”

Ariel vertel terwyl hulle haar ringe gekoop het, het ’n winkelassistent nadergestap om “die vrou te help wat dit aan ons verkoop”. Sy het gesê: “Kan julle glo party mans koop hierdie as verloofringe? Hoe pateties.” Ariel vertel sy het gesien hoe Quinn, wat nou haar man is, se gesig val.

“Hy het reeds sleg gevoel omdat hy nie die peervormige stel kon bekostig waarop ek so duidelik my hart gehad het en wat my Pinterest-blad vol was nie.

“Hy het reeds soos ’n mislukking gevoel en my oor en oor gevra: ‘Is jy seker jy sal met hierdie tevrede wees? Is jy seker dit is oukei?’ Hy was so ontsteld oor die idee dat hy my nie gelukkig genoeg maak nie en dat ek nie met hom wil trou nie oor my ringe nie genoeg geld gekos het of spoggerig genoeg is nie.”

Maar Ariel het die volmaakte reaksie gehad.

Lees ook: Eienaar van ring wat by Karibiese eiland wegraak gevind in Suid-Afrika! “Dit is nie die ring wat saak maak nie; dit is die liefde wat daarin gaan om dit te koop wat saak maak,” het sy aan die assistent gesê. Hulle het die ringe gekoop en geloop. “Julle, ek sou met hierdie man getrou het as dit ’n 25c (R3,50) kougombalmasjien-ring was,” skryf sy in die roerende plasing. Die plasing het sedertdien blitsvinnig versprei en het meer as 76 000 reaksies ontlok en is meer as 56 000 keer gedeel.

“My man was so bang ek wil nie met hom trou nie omdat hy nie ’n stuk juweliersware kon bekostig nie. Hy was bang die liefde wat ek vir hom het, sou taan omdat hy nie die troustel kon bekostig wat ek wou gehad het nie. Die wêreld het dit so gemaak en dit is baie hartseer.

“Maar hier is ek nou, in die hof getroud, ringstel van $130 (R1 820), die liefde van my lewe aan my sy en gelukkiger as wat ek my ooit sou kon voorstel.”