’n Kindermoordenaar is Woensdag in Texas – waar meer mense al die doodstraf opgelê is as enige ander staat in Amerika – tereggestel.

Lisa Coleman (38), wie se appèlaansoek ter elfder uur misluk het, is om 18:24 dood verklaar ná sy ’n dodelike inspuiting toegedien is by die staatsgevangenis in Hunstville, het Robert Hurst, woordvoerder van Texas se departement van kriminele regstelsel gesê. Sy is een van net ’n handjievol vroue wat al ter dood veroordeel is.

Lisa is in 2004 skuldig bevind aan die ontvoering en moord op haar inwonende meisie se negejarige seun.  Volgens hofrekords het die kind se liggaam tekens van uithongering en mishandeling getoon en is hy vasgebind in die woonstel wat die twee vroue gedeel het.  Die seun het gesterf van wanvoeding en het met sy dood net 15 kg geweeg.

Sy ma is ook aan sy moord skuldig bevind en ’n lang tronkstraf opgelê. Lisa is skuldig bevind aan ontvoering en dat sy hom afgesonder en vasgebind het – die verswarende aanklag van ontvoering het haar skuldigbevinding aan sy dood ’n misdaad strafbaar met die dood capital crime gemaak.

Lisa se prokureur, John Stickels, het in ’n appèlaansoek in ’n hooggeregshof Dinsdag ontken dat die seun ontvoer is en gesê sy kliënt moes nooit die doodstraf opgelê word nie.

John het gesê ooggetuies het gesien hoe die seun enkele dae voor sy dood met ander kinders speel – bewyse dat die skuldigbevinding op ’n aanklag van ontvoering verkeerd was.

Die hooggeregshof het die appèlaansoek ’n uur voor die teregstelling verwerp. Lisa is die 30ste teregstelling in Amerika sedert die begin van die jaar, met bykans ’n derde van teregstellings wat in Texas uitgevoer is.

Sy is die 15de vrou wat tereggestel is in Amerika sedert die doodstraf in 1976 herroep is, uit ’n totaal van bykans 1 400 teregstellings, volgens die nie-winsgewende organisasie Death Penalty Information Center.

- Sapa