Die 24-jarige, wat voorbehoed gebruik en elke maand haar maandstonde gekry het, het geen benul gehad sy is hoogswanger nie terwyl sy ure voor die geboorte van haar babadogter gefuif het.

“Ek was baie geskok,” sê Abigail ná die geboorte.

“Ek sou beslis nie gedrink het as ek geweet het ek is swanger nie. Ek voel baie skuldig.”

Die oggend ná haar aand uit het Abigail, van Wolverhampton in West Midlands, saam met ’n vriendin pizza geëet.

Sy het skielik kwaai maagkrampe gekry, maar gemeen dis weens ’n urienwegonsteking.

Die steekpyne het later ondraaglik geword. Toe haar kêrel van vier jaar, Jamie Pillinger (37), by die huis kom, het sy vir hom gesê sy moet by ’n dokter uitkom.

“Ek het vir hom gesê iets is nie reg nie.”

Die nuwe ma sê toe sy by die hospitaal aankom, kon sy skaars loop en het dit gevoel of haar “organe ontplof”.

Swangerskap was egter die laaste ding waaraan sy gedink het.

“Ek was toe net 23 – babas was die laaste ding in my gedagtes,” sê sy.

By die hospitaal het die verpleegsters bevestig wat Abigail nie verwag het nie: sy was swanger.

Op 35 weke het die kroegmeisie die lewe geskenk aan ’n babadogter van 2,2 kg wat die paartjie Isabella genoem het.

Die pasgebore baba is vir neonatale sorg weggeneem, waar sy antibiotika gekry en met haar asemhaling gehelp is. Ure later is die bondeltjie vreugde aan die trotse ouers oorhandig.

“Sy is pragtig,” sê Abigail. “Natuurlik dink alle ma’s so.”

Al het sy voorbehoedmiddels gebruik en haar maandstonde gekry in al die maande van haar onbekende swangerskap, het Abigail tog ’n paar swangerskapsimptome ervaar.

Pyn in haar buik en urinering snags het sy aan ’n blaasinfeksie toegeskryf. En die gewig wat sy aangesit het, het sy as die gevolg van haar swak eetgewoontes beskou.

“Ek is ’n bietjie hartseer ek het nie ’n skandering of ’n ooievaarstee gekry nie, maar ek sou Isabelle vir niks ter wêreld verruil nie.”

“Ek kan nie glo wat ek gedink het ’n babelas was, was Isabella nie.”

Bronne: mirror.co.uk, metro.co.uk