Sheila beskryf haarself as effens sku en by tye selfs afsydig. Sy het ook nie alkohol gedrink nie.

Angela daarenteen was ’n pragtige, borrelende en intelligente jong meisie wat maklik met mense, ook vreemdelinge, gesels het. Maar ten spyte van hul uiteenlopende persoonlikhede was die twee teen die einde van die jaar boesemvriendinne.

Op 12 Oktober 1984 het Angela, vergesel van Russell Buchanan en Anita Kadala, besluit om by ’n paar kroeë te gaan kuier. Dit was ’n jolige tyd met sowat 75 000 ondersteuners wat Dallas op horings geneem het vir die bekende Red River Showdown, ’n voetbalwedstryd tussen die Universiteit van Texas en die Universiteit van Oklahoma.

Sheila was by haar familie in die noorde van Texas. Sy’t geglo Angela sou die volgende dag die wedstryd gaan bywoon. Tot sy ’n oproep van ’n medestudent ontvang het.

“Ek het gegil en gehuil,” het sy aan die Washington Post gesê. “Die wêreld was nooit weer dieselfde nie.”

Haar beste maat, Angela (20), sou nooit weer saam met haar lag of gesels nie. Sy is seksueel aangerand en wreed vermoor.

Verskeie teorieë het bestaan oor wie die grudaad gepleeg het. Die laaste mens met wie Angela glo gepraat het, was telefonies met haar kêrel.

“Praat met my,” sou sy glo vir hom gevra het. Toe die verbinding verbreek, kon hy haar nie weer in die hande kry nie. Hy het na haar woonplek gery, maar niemand het geantwoord nie en die deur was gesluit.

Hy het die polisie gebel. Janice Crowther van die Dallas-polisiekantoor het op die oproep gereageer en na Angela se woonplek gegaan. Sy en haar kollega het die huis binnegegaan en op Angela afgekom.

“Ons het Angela op haar bed aangetref met haar hart basies uit haar liggaam gesny. Dit het bo-op haar borskas gelê.”

Langs haar lewelose, gebreekte en bebloede liggaam het ’n opgestopte reuse-haas gelê.

“Haar oë was oop. Sulke deurdringende blou oë,” het Janice onthou.

Eerste op die lys van moontlike verdagtes, was Angela se kêrel. Toe verskuif die aandag na Russell Buchanan, ’n man saam met wie sy die aand in ’n groep gekuier het. Die polisie het Sheila byna die onmoontlike gevra: Gaan vir ete uit saam met Russell en vind uit of sy weergawe die werklike weergawe is en of daar iets meer daar agter skuil. Sheila was oortuig hy was onskuldig. DNS-toetse was in hierdie tyd nog nie beskikbaar nie en dit was feitlik onmoontlik om uit beskikbare getuienis die moordenaar te probeer vastrek. Die ondersoek na Angela se moordenaar het doodgeloop, maar Sheila wou nie besgee nie. Sy was vasbeslote om antwoorde, én die moordenaar, te kry.

Selfs Angela se broer, Tom Geantil, het in hierdie stadium enige hoop opgegee dat daar antwoorde sou kom.

Sheila het ’n geregistreerde privaat speurder geword in die hoop dat die polisie haar desperate pleitdooie vir ’n verdere ondersoek ernstiger sou opneem.

In 2004 het Sheila, nou getroud en bekend as Sheila Wysocki, vir Angela in ’n visioen gesien. Sy’t geweet die tyd is reg om weer die ondersoek aan te pak.

Twee jaar later het sy bevestiging daarvan gekry. Ene speurder Linda Crum het daarin geslaag om DNS-getuienis aan ’n naam te koppel, en dit was nie Russell of Angela se kêrel nie. Dit was ook nie iemand wat Sheila geken het nie.

Dit was Donald Bess, ’n misdadiger wat op parool was toe Angela aangerand en vermoor is. Teen die tyd dat die polisie hom met die moord kon verbind, was hy weer terug agter tralies; lewenslank vir seksuele aanranding.

Bess het toegang tot Angela se woonplek gekry deur te vra of hy haar badkamer en foon kan gebruik.

Tom, Angela se broer, het ná die vonnisoplegging vertel hoe hy drie tot vier jaar tevore al die nommers van al die speurders wat by die ondersoek betrokke was, weggegooi het.

“Dit was ’n emosionele besluit. Toe, twee jaar gelede, het ons die oproep gekry (dat Donald Bess die skuldige was). Dit was ironies.”

Sheila het elke dag van sy verhoor bygewoon, maar kon nie die emosionele krag vind om daar te wees vir die uitslag nie.

Bess se regspan het om versagtende omstandighede gepleit: swak gesondheid, ouderdom, grootwordjare met ’n alkoholis-pa en manipulerende ma. Maar selfs Richard Franklin wat sy verdediging waargeneem het, het erken sy kliënt het “baie vreemde goed, baie slegte goed” aangevang.

Dieselfde maat wat in 1984 vir Sheila met die skoknuus gebel het, het haar weer gebel. Dié keer om te sê Bess gaan betaal vir wat hy gedoen het. Hy is die doodstraf opgelê, maar die datum waarop hy tereggestel sal word, is nog nie bepaal nie.

Sheila sê sy het gehuil nadat sy die uitspraak gehoor het, maar dat “niks verander het nie – jy het steeds iemand wat dood is, jy het steeds iemand wat haar vermoor het en jy het steeds ’n wêreld wat verander het”.

Bronne: washingtonpost.com, smudailycampus.com, dallasnews.com