Die Britse vrou, wie se identiteit nie bekendgemaak is nie, het in 2015 by ene Colin Leacock ingetrek kort nadat hulle mekaar aanlyn ontmoet het, berig die Britse koerant The Telegraph.

Maar Colin se suster, Mandy Leacock, het glo daarop aangedring om by die paartjie in te trek, want sy wou hê die vrou moet bewys sy is goed genoeg vir Colin. Dié besonderhede het bekend geword tydens die hofverigtings by die Southwark Crown Court in Londen, berig Mail Online.

Mandy het die vrou glo gedwing om te kook en skoon te maak. Sy het selfs bleikmiddel oor haar gegooi terwyl sy (die vrou) in die bad gesit het.

Colin het die vrou glo ook in sy woonstel in Londen verkrag. Hy staan tereg op twee aanklagte van verkragting en twee van aanranding.

Mandy het vroeër skuld erken op ’n klag van aanranding omdat sy die vrou met bleikmiddel gegooi en haar hare getrek het.

Volgens die Britse nuusblad Metro was die vrou bang sy beland op straat as sy vlug. Sy was glo ook eensaam en bang.

Die hofsaak duur voort.

Bronne: The Telegraph, Mail Online, Metro.co.uk