Blaarslaai, avokado, hoenderrepe . . . en ’n baba-padda vir smaak – dit was beslis nie wat Shawna Cepeda in gedagte gehad het toe sy onlangs ’n gesonde slaai by die Kaliforniese restaurant BJ’s bestel nie. 

Die 40-jarige vrou het saam met haar man en jong dogter gaan uiteet toe sy agterkom iets is nie pluis met haar maaltyd nie. 

Foto: Yelp

Shawna het aan The Mercury gesê: “Ek het iets gesien wat soort van opgerol is. Ek het gedink dit lyk nie reg nie, toe gee ek dit vir my man aan en vra: ‘Is dit ’n stuk blaarslaai?’ Toe kyk hy, en my dogter kyk, en hy roep uit: ‘Dis ’n verdomde padda!’

“Ek het agtergekom dit smaak anders en gedink die slaaisous is dalk effens bitter,” sê sy.

Sy het die personeel dadelik ingelig, en dié het die padda blitsig verwyder. Die departement van openbare gesondheid van die distrik Los Angeles is ontbied om die tak van die gewilde franchise te ondersoek, maar daar is bevind hulle het geen regulasies oortree nie. 

Foto: Yelp

Die restaurant se algemene bestuurder, Krysteen Romero, het kommentaar gelewer op ’n inskrywing wat Shawna op Yelp geplaas het. Krysteen het gesê die restaurant beskou sulke voorvalle in ’n ernstige lig en bygevoeg BJ’s het ’n interne ondersoek van stapel gestuur en met hul verskaffers en verspreiders in gesprek getree. 

Shawna was besorg oor hoe nonchalant die personeel oënskynlik oor die voorval was.

“Ek kan nie glo dit het nie net deur jul produktehandelaar se hande gegaan nie; dis deur julle s’n ook,  en niemand het iets opgemerk nie,” sê sy.

“Die personeel het nie enige ander klante ingelig dat die slaai besmet kan wees nie. Die restaurant was taamlik vol. Daar was baie kinders, en ek dink dit is wat my die meeste gepla het.” 

Die ma was ook by die dokter. Dié het vasgestel sy het nie kieme soos salmonella opgedoen nie, maar gesê sy het dalk die een of ander soort ander bakteriële infeksie. Hy het vir haar antibiotika voorgeskryf. 

“Ek breek aanhoudend wind op. Alles wat ek eet, laat my siek voel. Ek wil nie eens na ’n slaai kyk nie,” sê sy.

Bronne: The Mercury, Yelp, AOL