’n Britse vrou het bekendgemaak dat sy as deel van haar werk wêreldwyd toer om na nuwe bestanddele en speserye te soek vir die winkelgroep Asda en dan soms tot 200 pasteie per week moet eet.

Emma Ainley (34) is die hoofpasteiproeër vir Asda en erken dat dit haar “droomwerk” is om dwarsoor die wêreld te reis op soek na nuwe bestanddele en resepte vir die perfekte pastei.

“Ek is ’n groot aanhanger van pasteie; so dis my droomwerk,” sê sy. “My ma het hulle self by die huis gebak; nou probeer ek ook altyd die perfekte tuisgebakte pastei maak.”

“Gemiddeld eet ek weekliks so 30 tot 35 pasteie, maar wanneer ons aan ’n nuwe reeks werk, kan dit tot 200 per week wees.”

Emma voeg by dat sy gelukkig nog nie enige ekstra gewig aangesit het sedert sy met hierdie werk begin het nie. “Ek probeer om my dieet gebalanseerd te hou, maar dit is moeilik as jy hulle elke dag van 9 tot 5 eet,” het sy aan die Daily Mirror gesê.