Stel jou voor jy stap rond met jou verloofring nog voor jou maat die ja-woord gevra het!

Wel, dis presies wat met Anna, ’n toekomstige bruid van Australië, gebeur het – sonder dat sy daarvan bewus was, natuurlik.

Haar kêrel, slegs bekend as Terry, het haar verras met ’n hangertjie wat sy gedurig gedra het.

Binne die hangertjie het hy ’n pragtige ring versteek wat hy gedink het Anna sou van hou – hoewel hy nog nie gereed was om die groot vraag te vra nie!

“Ek het nog altyd gehou van die idee om vir iemand ’n geskenk te gee waarvan hulle nie die ware waarde besef nie,” het Terry aan Metro UK gesê.

Terry het in houtwerk begin belangstel en besluit om vir Anna die hangertjie te maak, wat hy met hul eerste jaar saam vir haar gegee het. Anna het vir 12 maande daarna die hangertjie amper elke dag gedra, sonder dat sy besef het daar is iets baie spesiaals daaromtrent.

Terry het aan The Independent gesê daar was tye wat hy bekommerd was sy geheim sou uitkom.

“Ek het op ’n kol gedink sy gaan dit inruil by ’n grofsmid by ’n markie, maar gelukkig was dit nie vir my nodig om haar te keer nie.

“My grootste paniekbevange oomblik was toe ons die eerste keer deur lughawe-sekuriteit moes beweeg. Ek het nie gedink aan die feit dat sy dalk gevra gaan word om dit deur die x-straalmasjien te sit nie – dan sou dit baie vinnig in ’n huweliksaansoek by sekuriteit op die lughawe ontaard het!”

[caption id="attachment_173713" align="alignnone" width="684"]Foto: Youtube Skermgreep Foto: Youtube Skermgreep[/caption]

Anna het vir ’n volle jaar lank nie die ring ontdek nie – tot op die dag toe Terry besluit om haar te vra om te trou.

Die paartjie het na Smoo Cave in Skotland gereis wat nog altyd op hul emmerskoplysie was.

Voor hulle by die grot in is, het Terry vir Anna gevra of hy die hangertjie kan leen om foto’s daarvan langs die rotse te neem.

Hy het stilletjies die seël met ’n mes oopgebreek en op een knie afgesak terwyl hy die ring binne vir haar gewys het.

“Sy het daar gestaan met ’n verstomde gesigsuitdrukking en toe sy uiteindelik besef wat gebeur het, het sy “ja” geskree en op my gespring,” het hy aan The Independent. vertel.

“Dit het haar ’n oomblik geneem om te begryp dat die ring die hele tyd in die hangertjie was wat ek vir haar gegee het. Sy het kop verloor en gesê: ‘Wag ’n bietjie, was dit die hele tyd daarin? Ek kon dit verloor het, jou flippen idioot!’”