Vir die meeste mense sal dit verpletterend wees om te hoor hulle het kanker, maar hierdie vrou het dit begeer.

[caption id="attachment_120071" align="alignnone" width="600"]dh Cassandra Grant het tronkstraf net-net vrygespring nadat sy haar as haar terminaal siek vriendin, Clare Arrowsmith, voorgedoen het. Foto: Pixabay[/caption]

Cassandra Grant het tronkstraf net-net vrygespring nadat sy haar as haar terminaal siek vriendin, Clare Arrowsmith, voorgedoen het om by die huis en in die hospitaal behandeling te kry, berig MailOnline.

Die 37-jarige het in 2014 personeel by die Sint George-gesondheidsenstrum in Bristol om die bos gelei om haar te versorg voor sy na die Frenchay-hospitaal oorgeplaas is om daar behandeling te kry.

En dit is nie die enigste keer wat sy dit gedoen het nie.

In 2014 is Cassandra ’n opgeskorte vonnis opgelê nadat sy kankerlyers op Facebook bevriend het, hul identiteit gesteel het en hul afsprake verander het om hul behandeling te kaap.

Maar sy het haar vonnis verontagsaam en kort daarna Clare se identiteit gesteel. Sy het selfs gereël dat op Clare se lêer aangedui word sy moenie bygebring word nie.

In ongeveer dieselfde tyd het Cassandra haar as ’n ander terminaal siek vrou, Huleya Aleve, voorgedoen en by die Lodge Side-spreekkamer in Bristol probeer behandeling kry. Maar die personeel is nie om die bos gelei nie en “sorg is nie gegee nie”, het die aanklaer, Mark Worsley, gesê.

’n Paar maande later het Cassandra, van Coombe Dingle in Bristol, op Facebook voorgegee sy het terminale kanker en gesê sy samel geld in vir liefdadigheid. ’n Goedgelowige vrou was so oortuig dat sy vir Cassandra tuisgemaakte groetekaartjies gestuur het om te verkoop.

Verlede week het Cassandra in die Bristol-kroonhof in Brittanje skuld erken op drie aanklagte van bedrog – dat sy haar as Clare voorgedoen het, dat sy haar as ’n dokter voorgedoen het om die Britse nasionale gesondheidsdiens (NHS) te oortuig sy is Clare en dat sy haar as Huleya Aleve voorgedoen het.

Ter verdediging het Cassandra se prokureur, Fiona Elder, gesê sy het die “faktiewe steurnis” Münchhausen-sindroom en moet aanhou behandeling kry vir haar komplekse geestesgesondheid.

Sy het verduidelik mense met Münchhausen-sindroom gee voor hulle is siek of maak hulself siek vir aandag. Cassandra is 12 maande tronkstraf opgelê wat vir twee jaar opgeskort is.

Regter Euan Ambrose het in sy uitspraak gesê: “Mediese beroepsmense doen ’n moeilike werk en hulle doen dit met vaardigheid en sorg, en die sorg wat hulle aan jou gegee het, was gratis, maar eindelik as gevolg van misleiding.

“Dit is nie moeilik om te sien hoe ontstellend dit sou gewees het vir diegene wat jy mislei het nie,” het hy gesê.

Hy het haar gelas om skadevergoeding van R8 000 aan die Noord-Bristol-trust te betaal en ’n boete van R1 100 omdat sy haar vorige opgeskorte vonnis verontagsaam het.

Sy moes ook R660 aan die stuurder van die groetekaartjies betaal.

– Litaletu Zidepa

Bronne: Bristol Post, Daily Mail, Mirror

Lees ook op Huisgenoot.com:

‘Ek is moeg, ek wil nie meer so lyk nie,’ vertel mismoedige Worcester-man met aardige groeisel aan sy nek

Nuwe inligting oor vermeende ‘Rhodes-verkragter’ bekend

Huisgenoot-joernalis vertel die storie van die barmhartige Samaritaan wat sy verlore beursie terugbesorg het

Vrou praat oor jarelange gewigstryd en hoe sy eindelik 40 kg verloor het – ‘ek sou net eet en eet en eet’

Só vermy jy kaartmisdadigers se skelmstreke

Pragfoto’s: Kyk hoe skitter SA se eie Candice Abrahams as Mev. Wêreld!

Pa en seun in teenstropery-operasie deur veldwagters doodgeskiet