Die Russiese Evgenia Sviridenko (24) het na ’n sosiale-media-webtuiste gekyk toe haar iPhone 4 in die water geval het. Die slimfoon was in die laaier ingeprop.

Yaroslav Dubinina (23), wat saam met haar bly, het vir The Mirror vertel Sviridenko het “op die water gedryf” toe sy haar gekry het.

“Ek het opgemerk dat sy ’n ruk lank weg was en toe het ek die deur oopgemaak en haar bleek op die water sien dryf,” het Dubinina volgens mirror.co.uk gesê.

“Ek het haar foon, wat besig was om te laai, op die bodem van die bad gesien. Haar lyf het steeds geskud van die skok.”

Die Moskou-inwoner se iPhone 4 het volgens berigte steeds gewerk nadat dit in die water geval het, en haar sosiale media is outomaties op datum gebring.

Die polisie ondersoek die ongeluk en hoekom die laaier nie uitgesny het toe die iPhone die water getref het nie, het Daily Mail berig.

Bronne: News.com.au, Daily Mail, The Mirror