“O. ’n Keisersnit? So jy het nie werklik die lewe geskenk nie. Dit moes lekker gewees het om die maklike uitweg te kies.” Dit is die snedige aanmerking wat Raye Lee gekry het nadat sy vertel het haar baba is met ’n keisersnit gebore.

Sy was glad nie beïndruk nie en skryf toe op Facebook ’n snydende boodskap aan enigiemand wat dink ’n keisersnit is “die maklike uitweg”.

By ’n foto van Raye se letsel staan: “A, ja. My noodkeisersnit was absoluut ’n saak van gerief. Dit was regtig gerieflik om 38 uur in kraam te wees voor my baba in nood verkeer en toe elke kontraksie letterlik sy hart laat staan het. Dit het niks te doen gehad met die feit dat ek fisiek nie kon kraam nie, want ek is geen ander keuse gegee om my kind se lewe te red nie. O, en die chirurgie is kinderspeletjies om van te herstel. Verkeerd! Dit is alles sarkasme.”

Sy onthul sy het eers gehoor sy toon “goeie vordering” en sou nie ’n keisersnit nodig hê nie, maar toe sy begin kraam, het sy gehoor sy word vir “groot abdominale chirurgie” voorberei.

Raye sê verder die prosedure was die “pynlikste ding wat ek nog ervaar het. Om ’n skreeuende baba te laat trek uit ’n snit wat net 5 duim lank is – maar gesny en versnipper en getrek word tot dit oopskeur deur al jou lae vet, spiere en organe (wat hulle op die tafel langs jou lyf neerlê, om te kan aanhou sny tot hulle by jou kind kom) – is ’n heel ander ervaring as wat ek my voorgestel het my seun se geboorte sou wees. Dit was nie aangenaam nie. Dit is steeds nie.”

Raye verduidelik dit is amper onmoontlik om net te gaan sit, want “jy gebruik jou kernspiere vir letterlik alles. Stel jou voor jy kan hulle nie gebruik nie, want ’n dokter het hulle letterlik versnipper en verdraai en kan dit ses weke of meer nie herstel nie, want jou liggaam moet dit natuurlik doen. Wanneer daardie eerste verpleegster vra jy moet uit die bed probeer opstaan en die verskeurende pyn van ’n liggaam wat uitmekaargesny en weer aanmekaargewerk is, brand deur jou, besef jy die ironie van enigiemand wat dit die ‘maklike uitweg’ noem. So f** jou en f** hoe jy sien wat ek gedoen het,” het sy geskryf.

“Ek is die sterkste vrou wat ek ken. Nie net vir myself nie, maar vir my pragtige seun . . . en ek sal dit eerlikwaar elke liewe dag deurmaak net om seker te maak ek kan sy glimlaggende gesig sien.”

Dit plasing het vinnig versprei en is al amper 18 000 keer gedeel. Uit eensgesindheid het ma’s wêreldwyd hul eie ervaring gedeel.