Dié vrou het die vinger van haar man se minnares helder oordag in ’n straatrelletjie afgebyt.

Die voorval het na bewering gebeur nadat ’n sakeman se vrou sy minnares op ’n inkopietog in Napels, in die suide van Italië, raakgeloop het.

’n Relletjie het toe tussen die twee vroue uitgebreek. Om die kroon te span is hulle boonop aan mekaar verwant.

In die hitte van die stryd het die minnares met haar vinger na haar teenstander gewys en dié het die vinger op haar beurt morsaf gebyt.

Hoewel die minnares na bewering na die hospitaal gehaas is, weet niemand of haar vinger weer suksesvol geheg is nie.

Bronne: mirror.co.uk, dailymail.co.uk