Die werklose 28-jarige vrou, wat net as Audrey D. bekendstaan, moes sowat R15 500 inkomstebelasting betaal op haar salaris van 2013, wat sowat R19 600 beloop het.

“Ek moes my motor verkoop om die belasting betyds te kon betaal,” het sy aan AFP gesê.

In Frankryk word inkomstebelasting een keer per jaar (in September) gehef op die salaris wat die vorige jaar verdien is.

Aanvanklik het sy na die belastingkantoor gegaan om die aanslag in ’n enkele kontantbedrag te betaal. “So is dit minder pynlik,” het sy gesê.

Maar amptenare het haar vertel sy kan net R4 200 op ’n slag betaal. Sy het die eerste drie dele betaal en het toe besluit om haar stem dik te maak met die oorblywende R2 900.

Sy het by die belastingkantoor binnegestap met ’n spaarbussie en rolletjies een-, twee- en vyfsentmunte.

“Ek het ’n goeie vriend by ’n bank wat my gehelp het,” het sy verduidelik.

Sy het die spaarbussie op die toonbank gebreek en die kleingeld oorhandig.

Aanvanklik is sy stief behandel, maar naderhand het die belastingamptenare die humor in die saak gesien en lighartiger geraak terwyl hulle die geld getel het.

“Ek het niks teen belasting nie. Maar ek hou nie daarvan om so baie te betaal nie. Waar moet ’n mens so baie geld vandaan kry?” het sy gekla.

Sy het ook ’n ope brief gerig aan die Franse president, François Hollande, en die minister van finansies, Michel Sapin, “uit protes teen die stygings in belasting en teen die regering wat dink ons is idiote, maar eintlik omdat ek Frans is en graag kla”.