Sy het ook 20 minute gewag voordat sy hulp gesoek het. Sy word van moord aangekla. 'n Visserman het Sondag 'n liggaam in die Hudsonrivier in die staat New York gevind. Die owerhede het die oorskot geïdentifiseer as dié van die 46-jarige Vincent Viafore.

Volgens die aanklaers wou sy uit die verhouding uitkom èn het sy die kans gehad om $250 000 uit Vincent se lewensversekering te kry.

Vincent het op 19 April verdwyn in wat sy verloofde, Angelika Graswald, as 'n ongeluk aangemeld het.

Sy het gesê sy kajak het in onstuimige, koue water omgeslaan, hy het nie 'n reddingsbaadjie aangehad nie en sy kon hom nie red nie. Angelika, 35, is deur 'n ander roeier gered en vir hipotermie behandel.

Die storie het egter 'n ontstellende wending geneem. Minder as twee weke daarna is Angelika van moord aangekla.

Volgens die aanklaers wou sy uit die verhouding uitkom èn het sy die kans gehad om $250 000 uit Vincent se lewensversekering te kry.

“Sy het vasgekeer gevoel en dit was al uitweg vir haar,” het Julie Mohl, die assistent-distriksprokureur van die Orange-distrik, vandeesmaand tydens 'n hofondersoek gesê.

Volgens Julie het Angelika beken dat sy met Vincent se kajak gepeuter het en sy het later bely: “dit het goed gevoel om te weet dat hy sou sterf.” Nadat sy kajak omgeslaan het, het Angelika 20 minute gewag voordat sy hulp ontbied het, en, volgens getuies, het sy met opset haar eie vaartuig laat omslaan, het Julie gesê.

Die distriksprokureur se kantoor het Dinsdag 'n klag ingedien waarin hulle Angelika beskuldig van tweedegraadse manslag, sowel as van tweedegraadse moord.

Daar is 'n verklaring uitgereik waarin beweer word dat sy, behalwe om die dreineringsprop van die kajak uit te trek, ook nog sy roeispaan buite sy bereik weggetrek het waar hy in die water gespartel het.

Richard Portale, Angelika se prokureur, het verklaar dat Vincent se dood bloot 'n tragiese ongeluk was en niks meer nie. Hy het ook die verklarings wat sy kliënt na bewering aan die owerhede afgelê het, bevraagteken en hy het die taalversperring tussen Angelika en die ondersoekbeamptes beklemtoon.

Angelika en Vincent was skynbaar 'n gelukkige paartjie. Foto’s wat aanlyn geplaas is, het 'n liefdevolle paartjie gewys wat baie tyd in die buitelug, veral in die water, deurgebring het. Daar was ook 'n boodskap oor hulle planne om iewers op 'n plek in die Baltiese See te trou.

Angelika was reeds twee keer getroud.

Angelica word aangehou op borgtog van $3 miljoen.