Dit is algemene kennis dat water een van die beste maniere is om gesond te bly, maar kenners by ’n Londense hospitaal het onlangs dié raad bevraagteken nadat ’n vrou soveel water gedrink het dat sy siek geraak het.

waterdrink

En plaaslike kenners stem saam – te veel water kan jou siek maak.

In die voorval in Engeland het ’n 59-jarige vrou ernstig siek geraak toe sy ’n “oordosis” water drink.

Die vrou, wie se naam nie bekend is nie, het vroeër by ’n dokter die raad gekry om elke halfuur ’n halwe pint (236 ml) te drink. Toe sy simptome van ’n urienweg-infeksie toon, het sy selfs meer as die aanbevole hoeveelheid gedrink om haar gestel skoon te spoel.

Dokters het haar vloeistofinname vir die volgende 24 uur tot een liter beperk. Luidens ’n verslag was haar bloedtoetsuitslae die volgende dag normaal en is sy ontslaan.

Naarheid, braking en hoofpyne is alles simptome van hiponatremie. ’n Sterftesyfer van byna 30 persent is aangemeld in pasiënte met buitengewone lae soutvlakke.

Te veel water kan gevaarlik wees as jy sukkel met onderliggende kliniese toestande soos chroniese niersiektes (wat dikwels voorkom by ouer mense), hartversaking of kardiale wanfunksie, sê prof. Gavin Norton van die skool vir fisiologie by die Universiteit van Witwatersrand.

Hy sê verskeie endokrienafwykings wat die vloeistofbalans beïnvloed kom ook voor.

“By hierdie mense word die ekstra vloeistowwe wat geneem word nie behoorlik deur die niere uitgeskei nie. Dit kan tot vloeistofoorlading lei, vloeistof in die longe, asook elektroliete in die bloed, soos verdunde sodium.

"Dit veroorsaak dat vloeistowwe in selle inbeweeg en die sel vergroot wat breinfunksie kan beïnvloed,” sê Gavin.

Hy sê by ’n normale, gesonde mens kan taamlike groot volumes vloeistof (binne perke) ingeneem word en word die vloeistof- en elektrolietbalans deur die niere in stand gehou.

Gavin sê wanneer verkoueagtige simptome ontwikkel kan ’n dokter dikwels bedrus en “baie vloeistowwe” aanbeveel. Hy sê dit beteken nie noodwendig liters vloeistowwe nie, maar eerder die drink van vloeistowwe wanneer jou liggaam aandui jy is dors.

Dr. Heidi van Deventer van die Wes-Kaap sê wanneer natrium in die bloed laer raak, kan dit lei tot gevaarlike simptome soos naarheid en braking en wanneer dit nog daal, selfs tot neurologiese simptome.

“Jy kan naderhand in ’n koma verval.”

Sy sê dit gebeur met langafstand-atlete wat te veel water inneem tydens ’n wedloop.

“Dit is baie belangrik om te hidreer as jy siek is, veral as jy gastroenteritis het, maar te veel water kan beslis sleg wees as jy siek is.”

Sy sê ’n mens moet water drink in die balans van hoeveel jy uitskei. ’n Formule word in hospitale gebruik om uit te werk hoeveel vog ’n mens benodig.

“Die hoeveelheid benodigde daaglikse vog en ’n sekere hoeveelheid vir die verlies van ekstra vog deur naarheid en diarree word uitgewerk, gewoonlik volgens gewig en ouderdom, veral by kinders."

Heidi sê gesonde mense se elektroliete is meer stabiel en vir hulle is dit minder gevaarlik om baie water te drink, maar soos met die voorbeeld van langafstand-atlete en mense wat lank in die son werk of baie sweet, kan abnormaliteite in elektroliete ontwikkel wat deur oormatige watergebruik kan vererger.