’n Vrou het haar 99ste verjaardag gevier deur teen ’n toringgebou af te abseil.

Doris Long het die mylpaal gevier met haar 13de groot abseil sedert sy 85 geword het. Dit was teen die Portsmouth-universiteit se 33,5 m hoë Mercantile House in Hampshire in die suide van Engeland af. Sy is vermoedelik nou die oudste mens wat geabseil het.

Sy het aan The Portsmouth News gesê: “Dit het wonderlik gevoel. Ek het omtrent 60 gevoel, beslis nie 99 nie.

“Die weer was dié keer mooi. Omdat dit nie winderig was nie, het ek nie daar bo soos ’n pendulum rondgeswaai nie.”