Hy was so klein toe hy net meer as 'n maand gelede die lewenslig aanskou dat sy pa se trouring maklik om sy enkel kon pas. Dokters moes klein Rayden Mondragon, van Othello in die Amerikaanse deelstaat Washington, noodgedwonge met 'n keisersnee in die lewe bring. Dit was nadat hulle agtergekom het hy kry nie genoeg suurstof nie toe sy ma, Marissa, op 20 weke 'n roetinetoets vir Downsindroom ondergaan het. Hy het by geboorte die ontwikkelingsouderdom van 'n 21 week oue fetus gehad, skaars 390 g geweeg en was net 26 cm lank.

Marissa en haar man, Robert, was baie opgewonde toe hulle hoor hul sesjarige, Robert jr., sou in Januarie aanstaande jaar 'n boetie kry, vertel die ouers op hul blad op 'n steunnetwerk se webtuiste.

Maar die toets het gewys dat die baba nie genoeg suurstof en voedingstowwe deur die plasenta ontvang nie en abnormaal klein was. Die dokters het Marissa eers inspuitings gegee om sy longe te stimuleer, maar twee weke later besluit, as hulle nie dringend ingryp nie, kan hy in die baarmoeder sterf.

Sy ouers het sonder ophou gebid nadat hy ná die neonatale waakeenheid gehaas is, want buiten dat sy longe ernstig onderontwikkel was, was daar ook probleme met sy spysverteringstelsel.

"Hy was so klein: Toe hy drie dae oud was, het Robert maklik sy trouring oor sy voetjie geskuif," vertel Marissa. "Maar hy's ook 'n vegtertjie . . ."

Sy kon hom eers ná sowat twee weke vashou. "Dit was swaar dat ek hom nie kon troos toe hy aan die begin so gesukkel het nie.

[caption id="attachment_144841" align="alignnone" width="600"]xx Marissa en haar man, Robert, was baie opgewonde toe hulle hoor hul sesjarige, Robert jr., sou in Januarie aanstaande jaar 'n boetie kry. Foto: You Caring[/caption]

"Maar dit was wonderlik toe die verpleegster hom vir die eerste keer teen my bors neerlê. Ek het 'n uur en 'n half net na hom gekyk.''

Skanderings vir bloeding het gelukkig ook getoon sy brein is nie beïnvloed nie.

Dis nog te vroeg om met sekerheid te sê wat die toekoms vir Rayden inhou, maar die gesin is vol hoop. "Dit was 'n moeilike maand en ons was 'n paar keer baie benoud.

"Elke dag is nog 'n stryd vir hom, maar hy raak ook daagliks sterker."

Bronne: youcaring.com, catholic.org, lifenews.com, thesun.co.uk