Dit is buiten die uitwerking van gedeelde etnisiteit, sê die navorsers. En dit kan belangrik wees vir teorieë oor menslike evolusie, sê James Fowler van die Universiteit van Kalifornië in San Diego.

Hy en die Yale-navorser Nicholas Christakis lê hul bevindinge voor in ’n artikel wat Maandag deur die joernaal Proceedings of the National Academy of Sciences gepubliseer is.

Hoeveel meer het vriende gemeen as vreemdelinge? Nie veel nie. Dink aan die geringe ooreenkoms tussen agter-kleinneefs, mense wat ’n stel agter-agter-agter-grootouers deel. Die studie het 1 932 mense ingesluit in ’n langtermynstudie in Farmingham, Massachusetts. Navorsers het uit die versamelde inligting geweet wie van die 70’s tot die vroeë 2000’s hegte vriende was. Uit hierdie groep het hulle 1 367 pare hegte vriende en sowat 1,2 miljoen pare vreemdelinge geïdentifiseer. Hulle het toe inligting oor byna 467 000 plekke in die DNS-kode van elke deelnemer ondersoek. Hulle het gekyk na hoe soortgelyk die vriendepare was en dit vergelyk met hoe soortgelyk die vreemdelingpare was.

'Die gene wat die reuksintuig raak, is veral soortgelyk in vriende'.

Die navorsers het bevind die gene wat die reuksintuig raak, is veral soortgelyk in vriende.

Hoekom sou vriende se DNS meer soortgelyk wees as vreemdelinge s’n? Volgens James is dit onduidelik. Een moontlikheid is dat soortgelyke gene mense geneig maak om soortgelyke omgewings te besoek; daar is dan ’n groter kans dat hulle mekaar sal ontmoet.

’n Ander moontlikheid is dat mense wat sekere gene gemeen het, ook vaardighede deel wat waardevoller word wanneer hulle saamwerk, het hy gesê. Dit kon oor evolusionêre tyd belangrik wees en dus ’n patroon gevestig het wat mense steeds volg, het hy gesê.

James het ook gesê dit is nie duidelik of die bevinding van toepassing is op mense buite die Farmingham-studiegroep nie. Dié groep is van oorwegend Ierse en Italiaanse afkoms.

In elk geval kan hierdie bevindinge help verduidelik hoekom gedrag soos onbaatsugtigheid oor evolusionêre tyd ontwikkel het, het James gesê.

Francisco Ayala, wat evolusionêre genetika aan die Universiteit van Kalifornië in Irvine studeer, het gesê die studie se bevindinge het hom regtig verbaas. Maar “die statistieke is daar” om die gevolgtrekkings te rugsteun, het hy gesê.

Ben Domingue, ’n navorser aan die Universiteit van Colorado in Boulder, het die bevindinge as interessant beskryf. “Ek is redelik oortuig hulle is op die regte spoor,” het hy in ’n e-pos geskryf.

- Sapa