Andreas word daarvan verdink dat hy willens en wetens ’n Airbus A320 met 150 mense aan boord in die Franse Alpe vasgevlieg het.

Volgens die Daily Mail beweer hulle die klagtes teen hom is uitgedink as deel van ’n plan van Lufthansa, wat die laekostelugdiens Germanwings besit, om meganiese foute van die vliegtuig te verbloem.

Hulle het selfs ’n Facebook-blad, Andreas Lubitz A320, gestig om die “heksejag” op Andreas teen te staan.

Op die blad deel hulle hul samesweringsteorieë oor wat regtig tydens die ramp gebeur het.

Versekeringseise

Intussen het Lufthansa se versekeringskonsortium R3,6 biljoen opsygesit om die onkoste van die Germanwings-ongeluk te dek, het ’n woordvoerder van Lufthansa Dinsdag in Frankfurt gesê.

Die bedrag sal die eise dek van die naasbestaandes van die oorledenes, die verlies van die Airbus A320 en verwante personeelkoste, het hy gesê.

Die versekeringskonsortium word gelei deur Allianz van München, die grootste versekeringsgroep in Europa. Allianz wou nie kommentaar lewer nie.

Franse aanklaers het verlede week gesê die medevlieënier Andreas Lubitz het die straler opsetlik in ’n berg laat vasvlieg nadat hy sy kaptein uit die stuurkajuit gesluit het.

Duitse aanklaers sê psigiaters en neuroloë het die man behandel en het nagelaat om mediese sertifikate in te dien waarvolgens hy in die aanloop tot die ongeluk van werk vrygestel word.

BEA, die Franse ondersoekagentskap wat die veiligheidstekortkominge ondersoek wat tot die ongeluk gelei het, het Dinsdag gesê hulle fokus op die sluitprosedure van die stuurkajuit en sielkundige evaluering.

Die BEA probeer die geskiedenis van die vlug saamstel vanaf die stemopnemer in die stuurkajuit, een van die twee vlugopnemers wat tot dusver opgespoor is. Die inhoud van ’n tweede vlugopnemer, die vlugdataopnemer, word nog tussen die wrakstukke op die toneel gesoek.

“Die veiligheidsondersoek sal gerig wees op die stuurkajuitsluitstelsel se logika en prosedures rakende toegang tot en uitgang uit die stuurkajuit, asook die maatstawwe en prosedures wat toegepas is om spesifieke sielkundige profiele te bespeur,” het die BEA in ’n verklaring gesê.

Lufthansa se hoof, Carsten Spohr, het deur ’n woordvoerder gesê hy sal Woensdag ’n sentrum besoek wat vir die slagoffers se naasbestaandes opgerig is. Dié sentrum in die stad Marseille in die suide van Frankryk is ingerig om families tot naby die ongelukstoneel te help kom.

Bronne: Sapa, Daily Mail