Toe dié man ná ’n ramparty wakker word, was daar ’n tatoe van ’n sonbril op sy gesig

Hierdie middeljarige man het ’n nare verrassing gekry toe hy wakker word ná ’n ramparty waar die drank behoorlik gevloei het.

Die feit dat hy met ’n swak getekende sonbril op sy gesig wakker geword het, herinner nogal aan ’n toneel uit die rolprent The Hangover. Hy het gedink die bril is met ’n merkpen geteken en het dit vergeefs probeer afwas.

Die was toe dat die man, wat niks van die vorige aand se kaperjolle kon onthou nie, besef die skets met die woord Rayban langs sy slaap is eintlik ’n permanente tatoe.

“Toe ek aanvanklik by die huis kom, het baie mense my aangestaar, maar ek het soort van aan die tatoe gewoond geraak en besluit om nie daarvan ontslae te raak nie,” sê die man wat anoniem wil bly.

Dit was eers toe ’n vreemdeling by ’n kroeg hom spot dat hy besluit het om die tatoe te laat verwyder. Die verwyderingsproses van ses behandelings het wee jaar geduur.

“Ek het eintlik begin dink oor wat my familie en vriende dink. Ek wou nie hê hulle moes skaam wees wanneer hulle saam met my uitgaan nie. Toe besluit ek daar en dan ek gaan dit laat verwyder.”

Die verwyderingsproses het turkoois merke om sy oë gelaat, maar dit sal na verwagting mettertyd verdwyn.

Donnalee Alford, die eienaar van die kliniek waar die tatoe verwyder is, beskryf syne as een van die ergste tatoe-foute wat sy nog gesien het.

Bronne: dailymail.co.uk, elitedaily.com