[caption id="attachment_173873" align="alignnone" width="600"]Theunis Botha en sy gesin. Foto: Facebook Theunis Botha en sy gesin. Foto: Facebook[/caption]

“Hy het (sy gesin) baie liefgehad en sou enigiets vir hulle doen,” sê Sandy McDonald van die Suid-Afrika se vereniging van beroepsjagters (Phasa), wat Theunis goed geken het.

Theunis (51) is dood toe die olifant sy jaggeselskap bestorm het. ’n Medejagter het uit selfverdediging op haar geskiet en sy het bo-op Theunis geval.

Sandy het Theunis as “meer as lewensgroot” beskryf. “Hy was braaf, taai en altyd regverdig.”

Volgens Sandy was Theunis baie lief vir sy honde en ’n deskundige op die gebied van hondehantering. “Hierdie kennis, asook die geweldige kennis wat hy van die grootkatfamilie gehad het, het hy altyd met die jonger beroepsjagters gedeel.”

Sandy sê Theunis was baie betrokke by die afrigting van vryhardlopende honde (’n baie suksesvolle program) vir teenstropingsprogramme en ander bewaringspogings.

Luidens Theunis se webtuiste, Theunis Botha Big Game Safaris and Hounds, was jag die passie van sy hart.

“Theunis Botha het luiperd- en leeujagsafari’s met jaghonde in Afrika vervolmaak – ’n passievolle en professionele jagoperasie, wat daarop fokus om sy klante ’n unieke, opwindende Afrika-safari-ervaring te bied,” lees die webtuiste.

Die Hoërskool Ben Vorster, waarvan Theunis ’n oudleerder is, het in die sosiale media geskryf hul hart gaan uit na Theunis se vrou en kinders. “Mag God julle dra en vertroosting bring in hierdie tyd van hartseer.”