[caption id="attachment_123686" align="alignnone" width="600"]Dié foto van baba Alice is kort ná haar geboorte in die hospitaal geneem. Foto: Facebook Dié foto van baba Alice is kort ná haar geboorte in die hospitaal geneem. Foto: Facebook[/caption]

Die Kaapse ginekoloog en verloskundige dr. Marlena du Toit, wat Alice in die Mediclinic Louis Leipoldt in Bellville in die lewe help bring het, het dié kind se roerende storie – van die blye geboorte tot en met haar hartseer afsterwe die volgende oggend – die afgelope week op Facebook gedeel.

“Lees gou Alice van Staden se storie . . . Alice of Miracleland,” het Marlena Woensdagaand geskryf nadat Alice gebore is.

“Haar mamma, Marelie, en pappa, Johan, woon in die Paarl. Marelie is sedert die ouderdom van 12 jaar ’n diabeet en is ’n baie dapper dame wat weens haar diabetes al baie komplikasies gehad het.”

Lees ook: Wonderbaba van Alberton sterf: ‘God het gekom om haar huis toe te vat,’ sê gebroke pa

Marelie het verlede jaar swanger geraak en Alice moes op 26 Julie haar opwagting maak, maar toe breek Marelie se water op 11 Maart ná ’n swangerskap van net 20 weke.

“Alle handboeke sou dit as ’n miskraam beskryf,” verduidelik die dokter. “Maar Alice klou aan haar plasenta en mamma vas!”

Die een ná die ander uitdaging het gevolg.

Op 25 weke en drie dae moes die dokter haar steroïede inspuit.

“Haar mamma bloei en Alice klou vir haar lewe.”

Woensdag, op 26 weke en een dag, het ’n nare infeksie sy verskyning gemaak en die dokter het besluit om ’n noodkeisersnit te maak.

Lees ook: Ma pleit om hulp vir siek dogter: ‘Dokters het nie meer antwoorde nie’

Alice die wonderbaba het om 16:46 die eerste lewenslig gesien. Sy het maar 830 g geweeg, net ’n raps swaarder as drie blokkies botter.

Sy is in ’n spesiale plastieksakkie gesit en na die neonatale intensiewesorgeenheid geneem.

“Ek is verstom oor hierdie wonderwerk. Dat ons ses weke tyd kon wen by ’n diabeetmamma met ’n hoë risiko vir infeksie,” het die dokter geskryf.

Maar toe, kort voor ses die volgende oggend, kom die nuus op Marlena se Facebook-blad: “Met die breek van die dag, kom die nuus . . . Alice is hemel toe.”

Dit was ’n moedige stryd, maar eindelik kon die jong mensie net soveel vat.

“Haar lyfie kon nie verder teen die infeksie worstel nie. My hart gaan uit na Marelie & Johan. Bid asseblief saam vir hulle vir vrede.”

Ander stories op Huisgenoot.com:

Kyk net watter Backstreet Boys-lid is die eerste keer pappa!

Ma pleit om hulp vir siek dogter: ‘Dokters het nie meer antwoorde nie’

Sterlopers se Willem Botha reg vir 30 en mal oor sy vriende se verspotte verjaardaggeskenk aan hom

Pragfoto’s: Al die mylpale, prag en praal van Koningin Elizabeth se nege dekades op aarde

Kyk: Aletté-Johanni Winckler deel ’n roerende video wat jou weer hoop sal gee