Die voormalige Formule Een-dokter Gary Hartstein het gesê aanhangers moet realisties wees oor Michael se toestand.

“Ek is bang (en feitlik seker) dat ons nooit enige goeie nuus oor Michael gaan hoor nie. in hierdie stadium vrees ek wat ’n verklaring van die familie gaan sê,” het hy aan The Telegraph gesê.

“Ek kan aan geen moontlike rede dink hoekom Michael se gevolg, wat verstaanbaar genoeg uiters privaat is, nie sy aanhangers sou inlig as daar vordering gemaak is nie.”

Die gerekende F1-skrywer Roger Benoit het dr. Hartstein se mening gedeel. Hy glo Michael se familie en die Grenoble-hospitaal se stilswye is veelseggend.

“Almal raak stadigaan meer bekommerd. Die hospitaal en die familie is al weke lank stil. Hoekom?”

Die laaste nuus oor Michael se toestand is in April deur sy bestuurder, Sabine Kehm, gedeel.

Dit is al 18 weke sedert dokters hom uit sy geïnduseerde koma begin ontwaak het. Die ondersoek na die ongeluk is in Februarie afgehandel; die ondersoekspan het bevind dat daar geen kriminele oortreding tydens die voorval plaasgevind het nie.

- Sapa