Gissings dat pres. Jacob Zuma se verwagte kabinetskommeling op hande is, is Maandagoggend verder aangevuur toe dit bekend word hy het Pravin Gordhan 'n dringende bevel gegee om uit Londen terug te keer. Die minister van finansies en sy adjunk, Mcebisi Jonas, is deur die regering beveel om hul besoek aan Londen kort te knip. Die twee was daar om internasionale beleggings in Suid-Afrika aan te moedig. Hulle sou ná Londen na Amerika gereis het. Die rand het ook dadelik die effek hiervan gevoel. Nadat dit Maandagoggend op R12,31 gestaan het, het dit reeds Maandagmiddag teen R12,62 teen die dollar verhandel.

Die regering het glo aanvanklik die twee ministers aangesê om die reise te onderneem om buitelandse beleggers te lok, maar het later sonder rede dié goedkeuring vir hul sakereis terug getrek, berig die Daily Maverick. Vrese dat pres. Zuma sy kabinet wil herstruktureer doen die laaste paar weke die ronde, veral nadat die omstrede Eskom-oudbaas, Brian Molefe, onlangs as kabinetslid aangewys is. Daar is bespiegel dat Molefe Gordhan of Jonas se poste kan oorneem, sou die skommeling plaasvind. Die nuus dat Gordhan en Jonas aangesê is om dringend terug te keer, gooi selfs meer vet op dié vuur. Pres. Zuma het egter op 7 Februarie by 'n sakepraatjie gesê hy weet niks van 'n komende skommeling nie.