Dit het gekom nadat Helen Zille, leier van die Demokratiese Alliansie, in haar rubriek in SA Today gewaarsku het dat ’n landwye kragverdonkering tot ’n "katastrofe" sal lei.

Eskom het, volgens verslae, die kabinet gewaarsku oor die risiko van ’n landwye verdonkering.

Zille het ’n verdonkering gedefinieer as “dit wat gebeur wanneer die elektrisiteitsnetwerk ineenstort en alles vir ’n onbepaalde tyd tot stilstand kom“.

Eskom het by herhaling gesê dat beurtkrag nodig sal wees om algehele verdonkering te voorkom. Die semistaatsinstelling het voorheen aangedui dat dit ongeveer twee weke sou neem om die probleem op te los.

Zille het aangevoer dat, indien verdonkering die landwye kragnetwerk tref, ’n “groot hoeveelheid“ elektrisiteit iewers vandaan gekry sal moet word om die netwerk weer aan die gang te kry.

"Nie een van ons bure is in staat om dit te verskaf nie.”

Toe aan Eskom gevra is oor die geldigheid van Zille se eis en oor sy planne, behalwe die instelling van beurtkrag as voorkomende maatreël vir hierdie moontlikheid, wou die semistaatsinstelling nie besonderhede verskaf nie.

"Die rede waarom ons beurtkrag ingestel het, is om verdonkering te voorkom en ons sal voortgaan om beurtkrag aan te wend om die netwerk te beskerm, aangesien dit die beste manier is om die kragstelsel te beskerm,“ het Eskom se mediakantoor ons per e-pos laat weet.

- Sapa