Die mees vreesaanjaende glans-fotosessie ooit.

Dis hoe die waaghals-fotograaf Jay Philbrick van New Hampshire se jongste toertjie onlangs beskryf is. Dit was sy geesteskind en hy het deurgaans die kamerasluiter gedruk, maar ewe veel eer kom Kristina (Dangergirl) Folcik toe.

Dis dié 38-jarige ma, ’n topfiks buitelug-geesdriftige, wat ’n dramatiese pers ontwerpersrok doer bo-op die spits van ’n rotstoring genaamd The Eaglet in gevaarlike rukwinde laat wapper het.

''Kristina . . . op die punt om van The Eaglet af te vlieg,'' skerts Jay nog ewe by ’n treffende foto in sy Facebook-inskrywings oor die duiselingwekkende twee dag lange fotosessie in die Amerikaanse deelstaat se Franconia Notch-reservaat.

Dit was heeltyd baie winderig en hulle het "baie gesukkel om die rok te beheer".

Kristina is darem wel met klimtoerusting geanker en die model sou dus moeilik van haar asemrowende natuurverhoog daar in die White Mountains kon afwaai.

"Maar ons het gedink die wind gaan ’n probleem wees. Eindelik was van die mees dramatiese skote egter juis aan die wind te danke . . ." het Jay vertel.

 

"Daardie rugbreek-vragte, die koue nag, die geswoeg in sterk winde was uit en uit die moeite werd. Knap gedaan, Kristina!"

"Dangergirl" self meen dit was ’n "ongelooflike en unieke ervaring. Ek wou baie lank reeds The Eaglet bestyg. En so gebeur dit toe dat ek die nag in ’n klein grot aan die voet van die spits slaap en die volgende dag in ’n rok daarop staan!"

Jay en 'n paar medeklimmers was voor die waaghalsige skietery darem eers teen daardie rotswande uit om seker te maak dit was moontlik en (redelik) veilig om Kristina en al die toerusting bo te kry.

Die 62-jarige Amerikaner en sy vrou Vicki, ook ’n fotograaf, haal al langer as ’n dekade sulke waagtoertjies uit vir foto’s met ekstra trefkrag.