Party mense sal hul lewe waag om hul naam in die rekordboeke te verewig – hulle sal selfs lopende kettingsae in die lug opgooi en weer vang en 12 brandende kerse in hul mond prop. Ons kyk na van die vreemde dinge wat mense al aangevang het – net om ’n Guinness-wêreldrekord agter hul naam te kan skryf...

KETTINGREAKSIE

In 2011 het die Kanadees Ian Stewart ’n nuwe wêreldrekord opgestel deur drie lopende kettingsae binne 37 sekondes ’n volle 94 keer in die lug op te gooi en weer te vang.

In 2014 het hy nog waagmoediger geraak en twee balle by sy toertjie gevoeg. Hy het dit toe reggekry om die balle én ’n lopende kettingsaag 158 keer te vang.

“Ek geniet dit om kettingsae te gooi,” sê die verhooghipnotiseur. “Ek sal waarskylik eerder kettingsae as enigiets anders in die lug opgooi. Ek weet dis ’n bietjie eienaardig, maar ek geniet regtig die lawaai”

In 2001 het die Australiër Chayne Hultgren, ook bekend as Space Cowboy, nuwe hoogtes bereik toe hy ’n kettingsaag ’n verstommende 3,59 m in die lug opgooi en weer vang. Maar dit is nou een toertjie waarmee jy nie ’n kerf beter as jou mededingers wil wees nie...

SAPPIGE STORIE

Om te wys sy’s die sterkste vrou ter wêreld, het Olga Liashchuk van die Oekraïne besluit om drie waatlemoene so vinnig as moontlik tussen haar bobene fyn te druk.

Haar tyd van 14,65 sekondes het haar ’n plek in die rekordboeke besorg.

Maar hoekom het sy so ’n morsige prestasie gekies?

Sy het gedink dit sou makliker wees om hierdie rekord te verbeter as ander kragrekords, het sy volgens berigte gesê, maar dit was toe veel moeiliker as wat sy verwag het.

Maar dit sal waarskynlik dom wees om te sê Olga is in die bol gepik, want ’n mens se skedel is nie soveel harder as ’n waatlemoen nie. En wie wil nou met die sterkste vrou ter wêreld skoor soek?

Lees ook: Ná 121 uur van fliekkyk, nuwe wêreldrekord

BOEKSKEUR

Van sterk vroue gepraat...Die Amerikaner Linsey Lindberg (25) hou die Guinness-rekord daarvoor dat sy die meeste telefoongidse binne ’n minuut opgeskeur het – drie van hulle.

Met appels speel sy net so vinnig klaar soos sy gewys het toe sy 10 van hulle binne 60 sekondes fyngedruk het – en dit met haar boarmspier. Met hierdie poging in 2014 in Milaan het sy nuwe rekord opgestel. Dalk moet sy en Olga dit oorweeg om saam ’n vrugteslaai-eetplek te begin!

KERS OPSTEEK

In Junie 2013 het die Indiër Dinesh Shivnath Upadhyaya ’n nuwe Guinness-wêreldrekord opgestel toe hy 12 brandende kers in sy mond prop – en dit was nie daardie kleintjies vir verjaardagkoeke nie, maar die bielies wat ons so tydens beurtkrag gebruik het.

Voor sy kersetoertjie het Dinesh al ’n paar nuwe eetrekords opgestel, soos die een toe hy 43 dobbelstene met bakhande gevang het terwyl hy geblinddoek was. Toe hy kommentaar gevra is oor sy prestasie met die dosyne brandende kerse in sy mond, het hy glo net laat hoor: “Mmmpffpp...” Waarnemers meen dit was die aanhaling: “Dis beter om ’n kers aan te steek as om die duisternis te vervloek...”

BAL-DADIG!

In 2013 het nog ‘n Indiër, Mahadeo Bhujbal, die rekordboeke gehaal deur 23 tennisballe 23 sekondes lank in sy hand vas te hou.

Die man het nie eens besonder groot hande nie en skryf sy sukses toe aan daaglikse oefening en die steun van sy familie en vriende. “Nou is my droom om ’n vlak te bereik waar die rekord onverbeterbaar sal wees,” sê die 42-jarige.

“Maar dit sal ’n paar jaar neem, want dit verg uiterse konsentrasie en oefening.” Met dié dat hy assistent-visepresident van ‘n groot onderneming, die Universal Group, in Indië is, is dit onwaarskynlik dat Dinesh binnekort ’n baljoggie by Wimbledon sal word.

Lees ook: Vrou spandeer meer as R1,7 miljoen om soos ‘n strokieskarakter te lyk

UIT HAAR KASSIES

Die Amerikaner Kim Goodman se toertjie sal jou dalk laat gril. Sy kan haar oë ’n ongelooflike 12 mm ver uit hul kas laat peul. Hierdie nuwe rekord het sy in 2007 in Turkye opgestel toe sy haar vorige een van 1998 met 1 mm verbeter het.

Kim, wat in Chicago woon, het blykbaar haar ongewone talent ontdek toe ’n hokkiemasker haar teen die kop tref en haar oogbolle verder as gewoonlik uitpeul.

Sy is waarskynlik baie gewilde met Halloween, want sy kan na willekeur haar oë soos ’n zombie s’n laat uitbult. Maar dit gebeur ook vanself wanneer sy gaap. Daarom probeer haar familie keer dat sy te verveeld raak...

VREETSAAM

Dit is nou wel nie so gevaarlik soos kettingsae gooi en vang nie, maar om 12 hamburgers binne drie minute af te sluk is ook nie juis gesond nie.

Takeru Kobayashi van Japan het altyd ‘n uitsonderlike eetlus gehad. Daarmee het hy al rekords opgestel soos toe hy 2001 binne 12 minute 50 worsbroodjies verorber het.

Die 12 burgers wat hom nog ‘n rekord in 2014 besorg het, het rou elk 113g geweeg – ’n prestasie wat sekerlik sy cholesterolvlakke die hoogte laat inskiet het.

Hy speel ook vinniger klaar met frikadelle, taco’s, pizza, pasta en roomys as wat die meeste mense ‘n wind kan opbreek. Takeru vergroot sy maag voor ’n kompetisie deur geleidelik ál meer en meer kos te eet en oefeninge te doen wat vet verbrand.

UITSKIETER

Stel jou voor hoe sterk jou longe moet wees om ’n ertjie ’n allemintige 7,51 m ver deur die lug te laat trek – en dit met ’n enkele asemteug.

Dis presies wat die Duitser Andre Ortolf in 2014 in Duitsland reggekry het. Van dié onkonvensionele “atleet” se vorige rekords is vir die vinnigste myl met klompe aan en vir die vinnigste Tiddlywinks oor 100 m speel – ‘n spel waar jy plastiekskyfies by ‘n houer moet inskiet.

Lank voordat daar sosiale media was, het ondeunde skoolseuns mekaar in die klas met voorwerpe uit blaaspypies ("peashooters") gepeper. As Andre toe op skool was, sou hy dalk van moord aangekla gewees het, omdat hy iemand se kop afgeblaas het...

Lees ook: 215,158 LEGO-blokkies en ‘n nuwe Guinness-wêreldrekord later

HOELA-HOE?

Enigiemand wat al ’n hoelahoepel ’n lang ruk om hul middel probeer draai het, sal weet hoe moeilik dit is om te keer dat dit tot by hul enkels afsak.

Maar die Australiër Marawa Ibrahim – ook bekend as Marawa the Amazing - het in 2014 ’n nuwe wêreldrekord opgestel toe sy 162 hoelahoepels gelyk aan die draai gehou het.

Sy hou ook die rekord dat sy vir die langste tyd op hoëhak-rolskaatse kon bly terwyl sy drie hoelahoepels laat draai.

Dis nie verbasend dat Marawa met ’n ferm lyf spog nie. Sy het ses maande lank die rol Josephine Baker, ‘n sangeres en danseres van die 1920’s, in New York gespeel en is groot lof daarvoor toegeswaai.

KUL JOU BIER, KUL JOU DAAR

Die Duitsers is bekend vir hul slag om groot hoeveelhede bier weg te sluk – en rond te dra in groot bekers wat steins genoem word.

In 2014 het Oliver Strumpfel dit reggekry om 25 sulke bekers 40 m ver te dra sonder om ’n druppel van die kosbare vloeistof te laat uitstort...

Oliver is nie ’n goeie ou om as vriend te hê wanneer dit jou beurt is om vir die drankies te betaal nie en 25 vriende wag dat hy sy slag wys waarmee hy ‘n wêreldrekord losgeslaan het nie...

Bron: Guinness Book of World Records 2016