’n Man het ’n paar dae lank in Jennifer Lopez se herehuis in Malibu gewoon voor die polisie hom aangekeer het.

Die sangeres was nie in dié tyd by haar huis van R100 miljoen nie; sy was in New York. Dis nog onduidelik hoe die 49-jarige man, geïdentifiseer as John M. Dubis, die veiligheidsmaatreëls ontduik het by Jen se huis. John was egter nie skaam om foto’s van sy doodluiterse blyery op Facebook te plaas nie.

TMZ berig John, wat reeds ’n inperkingsbevel teen hom het omdat hy J.Lo se ma, Guadalupe Rodríguez, in Januarie gekontak het, ontken skuld op aanklagte van onder meer inbraak. Sy borgtog is op R1 miljoen vasgestel, en ’n regter wil sy geestesgesteldheid laat evalueer.

Jen is Maandag 19 Augustus saam met haar kêrel, die danser Casper Smart, en haar twee kinders, Emme en Max, in ’n boekwinkel in East Hampton opgemerk. Die ster gaan binnekort sowat R120 miljoen verdien wanneer sy weer ’n beoordelaar is op die volgende seisoen van American Idol.