As jy op jou selfoon praat terwyl jy bestuur, is die kans goed dat verkeersbeamptes jou sal aftrek en dat jy jou ’n stewige boete op die hals sal haal.

Maar om ’n verkeerskaartjie te kry as jy ’n kaasburger agter die stuurwiel eet, is ’n bietjie dik vir ’n daalder. Madison Turner, ’n rekenaarsagteware-ingenieur van Alabama in die VSA, is onlangs in die vinnige baan deur verkeersbeamptes afgetrek vir “eet terwyl hy bestuur”.

Die beampte wat hom afgetrek het, het na bewering gesê hy het gesien hoe Madison sy dubbele kwartpond-kaasburger van MacDonalds ongeveer 3 km ver sit en eet en dit het sy aandag afgelei.

Hy het ’n boetekaartjie gekry, want die deurmekaar motorbestuurswet van Georgia lui: “’n bestuurder … mag nie enigiets doen wat sodanige bestuurder se aandag kan aflei nie”.

Alhoewel hierdie onduidelike wet dalk vreemd voorkom, is dit verreweg nie die vreemdste ter wêreld nie. Kom ons kyk na ander bisarre wette.

• Dit is ongemanierd om te vloek, maar op ’n strand in die VSA is dit in werklikheid onwettig. In die 1990’s is ’n poging aangewend om Virginia Beach in Virginië gesinsvriendeliker te maak; dus is vloekery daar heeltemal verbode.

• Maak seker jou petroltenk is vol wanneer jy in Duitsland rondry. Dit is teen die wet dat jou petrol op die Autobahn opraak.

• Moenie hoëhakskoene dra wanneer jy Griekse toeriste-aantreklikhede besoek nie. Die land het hoëhakskoene op historiese terreine verbied omdat hulle bang is dat die hoë hakke antieke Griekse monumente kan beskadig.

• In Singapoer oortree jy die wet wanneer jy kougom kou.

• In die Italiaanse stad Milaan oortree jy as jy nie heeltyd glimlag nie, behalwe as jy op ’n begrafnis is of ’n hospitaal besoek.

• Benewens die feit dat spoeg walglik is, is dit taboe in Barcelona en jy sal beboet word as jy gevang word dat jy spoeg.

-Petro-Anne Vlok

BRONNE: dailymail.co.uk, telegraph.co.uk, aol.co.uk