Maar toe kry die 51-jarige Steve Easton ’n niesbui en blaas ’n stuk van ’n speelgoedpyltjie uit – die rubbergedeelte wat vassuig – wat in sy neus was sedert hy sewe jaar oud was.
'Ek wonder nou net of daar dalk nog iets daar bo is.'

“Ek het ’n niesbui gekry en toe kom die ding by my linkerneusgat uit,” het Easton, van die dorp Camberley in Surrey, Engeland, aan Mirror UK vertel.

“Ek het dadelik gedink: ‘Wat is dit dié? Waar de duiwel kom dit vandaan?’ en trek toe hierdie rubbersuier uit. Ek was stomgeslaan.

“Toe ek dit vir my ma vertel, sê sy: ‘O ja, ons het jou hospitaal toe geneem toe jy sewe jaar oud was, want ons het gedink jy het een van die goed ingeasem.’”

Easton se ma, Pat (77), en haar man, Quentin (ook 77), het gesê hulle onthou dat hulle gesien het hul seun speel met sy pylgeweertjie en dat een van die pyltjies sonder ’n suier was.

“Hy het gesê hy het die ding ingesluk en net een van die pyltjies was sonder suier,” het Steve se ma vertel.

“Ek het hom hospitaal toe gebring, maar, nadat hulle vir ’n hele ruk gesoek het, het hulle gesê Steve het hom moontlik misgis.

“Ek het geweet hy sou nie so ’n fout gemaak het nie en ek was maar altyd bekommerd – en nou het dit skielik uitgeskiet. Ons is almal geskok. ”

Die suiertjie het in Maart vanjaar tydens ’n niesbui by Steve se neus uitgeskiet.

“Ek het dit aan my dokter genoem en hy was verstom, net soos ons almal. Maar hy meen daar was geen skade nie; dis nou maar hoe dit is, ” het hy gesê.

“Dit was 44 jaar daar bo in my neusholte. Ek het glad nie geweet dat dit so lank in my neus was nie. En ek voel nog net soos altyd – niks het verander nie.

“Ek wonder nou net of daar dalk nog iets daar bo is. ”