"Ons oudste dogter, Adéle, is pas oorlede. Ons het 'n bitter beker ontvang om te drink. Ons sal altyd haar nagedagtenis eer," het haar pa, Daan Potgieter, ná haar dood op Facebook bekend gemaak. Adéle (33) is reeds verlede Sondag in die Mediclinic-hospitaal in Bloemfontein opgeneem om behandeling te ontvang. Sy was 21 weke swanger met haar en haar man JB, voormalige Cheetah- en Shimla-rugbyspeler en kaptein van die Vodacom Leeus, se derde kind. JB het aan Netwerk24 bevestig dat sy egter die babatjie verloor het. Die paartjie is op 27 Maart 2009 getroud en het twee jong kinders Jozua (3) en Leané (1). Die egpaar se derde kind, Ubré (8), is uit JB se vorige huwelik.

"Ons is baie hartseer. Dit is verskriklik om iemand wat so geliefd en bemind was, so skielik te verloor"

Adéle het op 26 November keelseer en hoofpyn begin kry. Aanvanklik was sy in die kraamafdeling, maar haar toestand het so versleg dat sy Vrydag na die intensiewesorgeenheid oorgeplaas is. Volgens JB het haar lewer- en nierfunksie deurentyd agteruitgegaan. Selfs dialise het nie gehelp nie.

Adéle het vir die Vrystaat en ook die Universiteit van die Vrystaat netbal gespeel. Haar afrigter in daardie tyd, Burta de Kock het onder meer gesê: "Die hele netbalwêreld van die Vrystaat is geskok en verslae. Ons is baie hartseer. Dit is verskriklik om iemand wat so geliefd en bemind was, so skielik te verloor."

Die begrafnis is Vrydag om 10:00 uit die NG kerk Hugenoot in Bayswater, Bloemfontein.

Bronne: Netwerk24, 100punt6.co.za, Facebook