Shannon van Ohio in Amerika is sedert Junie vanjaar vermis. Nou word daar vermoed dat sy deur haar kêrel, Arturo Novoa, vermoor is. Dié het haar liggaam in ’n hangslotvrieskas versteek.

Arturo het egter nie alleen opgetree nie en in ’n nadraai met ’n kinkel is bevind dat ene Katrina Layton die slagoffer, Shannon, se lewe oorgeneem het deur in haar huis in te trek en haar kredietkaarte te gebruik. Sy het selfs die versorging van Shannon se hond oorgeneem.

Die paartjie is vasgetrek toe Arturo ’n vriend van hom gevra het om die hangslotvrieskas te bewaar.

Die vriend se nuuskierigheid het die oorhand gekry en hy het die vrieskas oopgebreek. Hy het die oorskot van ’n liggaam in die vrieskas gevind en die owerhede ontbied.

Luidens ’n vermistepersoonverslag, wat deur Shannon se familie uitgereik is, het hulle haar maande laas gesien.

Haar sussie het na bewering aan die media gesê sy het Shannon laas in Februarie gewaar, berig Metro.

Volgens die suster is dit nie ongewoon van Shannon om haar familie vir ’n paar maande lank nie te kontak nie, maar hulle het lont geruik omdat sy nooit die huis sal verlaat sonder haar voertuig, hond en selfoon nie.

Arturo en Katrina is voorlopig in hegtenis geneem op aanklag van lykskending.

Die owerheid wag steeds vir amptelike identifikasie van die liggaam en inligting oor die oorsaak van die slagoffer se dood.

Bronne: Metro, Independent, Skynews