“Ons is nie seker van die bewerings wat gemaak word of die bron van sulke bewerings nie, maar ons is onbewus van enige uitwissings wat Oscar geraak het of met sy opdrag gedoen is wat relevant vir die verhoor is of wat ’n uitwerking op die verhoor kon hê,” het hulle gesê.

Verlede maand is Oscar vrygespreek op die moord van sy meisie, Reeva Steenkamp, wat hy op Valentynsdag verlede jaar in sy huis in Pretoria deur ’n geslote toiletdeur doodgeskiet het.

Hy het beweer hy het haar vir ’n inbreker aangesien.

Oscar is toe skuldig bevind aan strafbare manslag.

Tydens die verhoor het ’n kenner van die polisie getuig oor ’n iPad2 en ’n iPad3 wat by Oscar se huis aangetref is.

Die blaaiergeskiedenis op die iPad3 sluit in soektogte na gratis pornografie en tweedehandse motors.

Volgens die tyd langs die geskiedenis is die pornografiewebtuiste om 18:30 op 13 Februarie 2013 besoek.

Agterna is die iPad gebruik om webtuistes oor tweedehandse motors te soek, insluitend ’n Ford Ranger en Aston Martin Rapide R.

Die selfoonkenner kol. Mike Sale het getuig volgens die data op die iPad3 en iPad2 wat op die toneel gevind is, het die twee toestelle se geskiedenis soortgelyke inhoud.

Hy het gesê die geskiedenis voor 13 Februarie verlede jaar is uitgewis.

Die Pistorius-familie en Oscar se regspan het gesê: “Sovêr ons bewus is, is alle relevante kommunikasie in die hof voorgelê.

“Die toepaslikheid van die kommunikasie op Oscar se fone, iPad en skootrekenaar is, het die hof toepaslik hanteer en het eindelik geen rol in die saak gespeel nie; dit het die hof bevind.”