Tydens ’n verskyning op Late Show with David Letterman het die akteur (42) gesê: “Ek is onder druk om goeie rolprente te maak. Iets vreemd gebeur met my, ek raak nogal vreemd, asof ek op ’n manier ’n Tourette-ding kry waar ek dadelik aan presies die verkeerde ding dink om te sê om mense te probeer oorreed om my rolprent te sien.”

David (66) het hom byvoorbeeld gevra waaroor sy nuwe fliek, Elysium, gaan.

Matt het skertsend geantwoord: “Wel, wat weet jy van fracking? Dis ’n wetenskapsfiksie-fracking-fliek.”

Matt se volgende projek is The Monuments Men, ’n rolprent oor die Tweede Wêreldoorlog wat sy vriend George Clooney (52) regisseer en waarin Bill Murray (62) verskyn.

Hy het gesê: “Bill en George het sowat vyf of ses jaar gelede bevriend geraak en George het net hierdie hele groep saamgestel. Bill is ongelooflik in die rolprent; hy is regtig wonderlik.

“George is werklik een van die beste regisseurs saam met wie ek ooit gewerk het en ek het al saam met baie gewerk.”

Matt het bygevoeg George is so talentvol dat dit onregverdig teenoor sy vriende is. “Dis so frustrerend. Sowaar as vet, dis asof God gesê het: ‘Miskien gaan ek net aanhou en hom nog en nog gee. Hy is ’n akteur, ’n skrywer en ’n vervaardiger, hy’s ’n regisseur – ja, hoekom nie?’ Dis obseen.”