Die bron van die ligbal was nie dadelik duidelik nie, het kenners Maandag gesê.

“Dit kon ’n meteoriet gewees het wat uitgebrand het,” sê Gerhard Drolshagen, ’n kenner van naby-aarde-voorwerpe by die Europese Ruimte-agentskap. “Dit is nie so ongewoon nie.”

“Dosyne besorgde burgers het gemeld hulle het ’n flits van lig in die lug gesien,” sê ’n woordvoerder vir die polisie-situasiesentrum in München, die hoofstad van Beiere. In die laer Frankeland-streek van die staat was party inwoners besorg dat dit dalk ‘n missiel kon wees. Polisielede op patrollie in die distrik Schweinfurt het ook ’n strook wit lig stadig in ’n suidoosterlike rigting sien beweeg.

Die bron van die ligbal was nie dadelik duidelik nie, het kenners Maandag gesê.

In die naburige staat Baden-Wuerttemberg het sowat 100 mense ingebel, sê die polisie-situasiesentrum in Stuttgart.

“Ons het geen aanduiding van enige soort skade nie,” sê ’n woordvoerder.

Die polisie in Stuttgart sê bellers het genoem hulle het die lig Sondag kort voor 23:00 (22:00 GMT) gesien. Inwoners van Mannheim, Karlsruhe, Freiburg en die gebied om die Constance-meer het hul kommer uitgespreek.

Die owerhede het verskeie soortgelyke oproepe aan die ander kant van die grens in Switserland gekry, berig die Switserse nuusagentskap sda. Die polisie in die Duitse staat Saarland op die grens met Frankryk en Duitsland se finansiële hoofstad, Frankfurt, is ook in kennis gestel.

Die bellers in Frankfurt het berig hulle sien ’n gloed in die lug suid van Duitsland se grootste lughawe, maar geen lugverkeerbeheerders het dit gesien nie, sê Deutsche Flugsicherung, die onderneming wat in beheer van Duitsland se lugverkeer is.

“Ons lugverkeerbeheerders het niks op die radar gesien nie en ons vermis geen vliegtuie nie,” sê ’n woordvoerder.