Die soektog na die vermiste Malaysia Airlines-vliegtuig duur voort, maar die raaisel verdiep nadat familielede van die passasiers en bemanningslede beweer hulle hoor ’n luitoon wanneer hulle na die vermistes se selfone bel. Die vliegtuig het vyf dae gelede vermis geraak. Daar word nou bespiegel dat die vliegtuig nie neergestort het nie, maar van sy roete afgewyk en êrens veilig geland het. Dit verklaar dalk hoekom daar ten spyte van ’n wye soektog nog geen wrakstukke gevind is nie.

’n Paar familielede van die vermistes het hul geliefdes op die Chinese boodskapdiens QQ probeer vind. Dié diens wys die gebruikers is steeds aanlyn, wat ’n aanduiding is dat hul fone steeds aan is.

Daar is aanvanklik vermoed dat die vliegtuig, wat van Kuala Lumpur onderweg was na Beijing, ná minder as ’n uur van die radar af verdwyn het. ’n Maleisiese militêre beampte het toe gesê die weermag het dit in die Malacca-seetraat opgemerk, maar dat dit laer as gewoonlik gevlieg het. Dit beteken ’n meganiese fout was waarskynlik nie soos vermoed ’n bydraende faktor tot die verdwyning nie.

Volgens ’n verslag is die vliegtuig se laaste bekende ligging naby die eiland Pulau Perak in die Malacca-seetraat, ongeveer 500 km van waar lugverkeerbeheer laas met die vliegtuig kontak gehad het.

Bespiegeling oor terrorisme begin afneem nadat dit duidelik geword dat die twee Iranse burgers aan boord van die vlug nie bande met terreurgroepe het nie.

Hier is ’n satellietfoto wat dalk die vliegtuig kan wees. Dis deur Mike Seberger opgemerk. Hy het ’n artikel oor DigitalGlobe se skarefinansieringsprojek gelees, waar internetgebruikers satellietbeelde kan gebruik om wrakstukke te identifiseer, en toe besluit om betrokke te raak daarby.

Volgens CNN het Mike die foto eers geïgnoreer, want hy het gedink dit is ’n foto van ’n skip, maar ná verdere ondersoek het hy besef dat dit die vliegtuig is.

Jonti Roos, wat in Suid-Afrika gebore is, het na vore gekom en gesê dat sy in 2011 op albei die vlieëniers se vlugte was. Hulle het haar en ’n vriend in die stuurkajuit ontvang; hulle het gerook, foto’s geneem en haar oor haar naellak gekomplimenteer. Ten spyte daarvan dat die vlieëniers so die reëls oortree het, hou sy vol hulle was baie professioneel. Albei vlieëniers het duisende ure se vliegondervinding.

Wat het regtig gebeur?

Die Daily Mail het ’n lys moontlike verduidelikings opgestel. (Lees die artikel hier)

  • ’n Ontploffing in die lug: Die afwesigheid van wrakstukke stel voor dat die vliegtuig in ’n bos neergestort het.
  • ’n Terreuraanval: Die direkteur van die CIA het gesê dit is steeds ’n moontlikheid.
  • ’n Kragonderbreking: Die kragtoevoer van die kommunikasie-instrumente is dalk met opset afgesny.
  • Elektroniese oorlogvoering: Twintig van die passasiers was deskundiges op dié gebied.
  • ’n Kaping: Radardata toon dat die vliegtuig dalk omgedraai het.
  • ’n Vlieënierfout: Volgens kenners is dit altyd ’n moontlike oorsaak.
  • ’n Strukturele fout: Dit is dalk ’n gevolg van skade wat die vliegtuig in 2012 in ’n ongeluk opgedoen het.
  • ’n Vlieënier het sy eie lewe geneem: In die laat 90’s was dit die oorsaak van twee vliegrampe.
  • ’n “Swart gat”: Die vliegtuig is honderde kilometers van die huidige soekarea gestrand.

Dalena Theron