Oscar Pistorius het Vrydag in sy moordverhoor gesê hy het nooit na Reeva Steenkamp gekyk voor hy hom gehaas het om ’n vermoedelike inbreker te konfronteer en die skote afgevuur het wat haar dood veroorsaak het nie.

Oscar het getuig hy het vir sy meisie “gefluister” sy moet die polisie bel, en hy het sy blik weg van haar op die gangdeur gefokus met die oortuiging dat sy nog in die bed was.

“Ek het vir Reeva gesê sy moet platval en die polisie bel. Ek het nie op ’n antwoord gewag nie . . . My hele wese was ingestel op die mens wat ek gedink het in die badkamer was,” het Oscar gesê.

Die aanklaer Gerrie Nel, wat Oscar ’n derde dag kruisondervra het, het gesê dit is moeilik om te verstaan waarom die Paralimpiese naelloper nie seker gemaak het sy minnares is veilig nie.

“Jy was reg langs haar in ’n gevaarsituasie, maar jy het nie tyd gemaak om met haar te praat nie,” het Gerrie in ongeloof gesê.

“ ’n Redelike mens sou gekyk het waar Reeva was om te kyk of sy veilig was . . . Maar jy het net ’n vuurwapen gegryp.”

Oscar, wat moontlik lewenslange tronkstraf vir voorafbeplande moord opgelê kan word, hou vol hy het bloot sy instink gevolg en geglo dit was die regte ding om te doen om homself tussen Reeva en die gevaar te plaas.

Maar Gerrie het gesê Oscar het ’n weergawe van gebeure uitgedink wat hom sou kon laat beweer dat hy nie geweet het Reeva is in ’n geslote toilethokkie in sy huis nie toe hy haar deur die deur doodskiet.

“Jy moes met ’n weergawe vorendag kom om te verklaar waarom jy onskuldig by die badkamer gekom het . . . Jou weergawe is ’n leuen.”

Volgens Oscar het hy in die vroeë oggendure op Valentynsdag verlede jaar uit die bed geklim om twee elektriese waaiers nader na die paartjie se bed te bring en ’n paar jeans oor ’n hoëtroustel se vertoonliggie te sit wat hom gepla het.

In die proses het hy ’n skuifvenster in sy badkamer hoor toeklap en paniekerig geskarrel om sy 9 mm-pistool te kry.

Gerrie voer aan Oscar het sy meisie van vier maande emosioneel mishandel en ná ’n rusie vermoor.

Vrydag het Gerrie Oscar nougeset deur sy bewegings in die vroeë ure van daardie oggend geneem en verpoos toe die atleet sê hy het vir Reeva geskree sy moet die polisie bel terwyl hy met sy vuurwapen voor die geslote deur gestaan het.

Dit was onmoontlik dat Reeva nie in hierdie stadium van binne die geslote toilethokkie sou gereageer nie, het Gerrie aan die hof gesê.

“Sy is 3 m van jou af en sy het nooit ’n woord geuiter nie. Daar is geen manier dat jy die hof kan oortuig dat sy daar gestaan en niks gesê het nie.”

Hy het Oscar se voorstel afgemaak dat Reeva te bang sou gewees het om ’n geluid te maak.

“Sy was nie bang vir enigiets nie, behalwe (vir) jou.”

Gerrie het toe gevra of Reeva geskree het terwyl hy die skote afgevuur het wat deur die deur gebars en haar in die heup, arm en kop getref het.

Oscar het sag begin huil en nee gesê. Gerrie het toe daarop gewys dat hy sy vorige getuienis weerspreek dat hy in daardie stadium niks kon hoor nie omdat sy ore van die skote gesing het.

“Hoe kan jy die feit uitsluit dat sy geskree het as jy nie kon hoor nie?” het Gerrie gevra.

“Jou weergawe het nooit gebeur nie en jy moet tred hou met ’n onwaarheid; daarom maak jy hierdie foute. Jou foute is net so oortuigend soos jou getuienis,” het hy gesê.

“Jy het gedink ’n inbreker het deur jou badkamervenster ingekom, by jou toilet ingestap en die deur toegemaak. Dit is baie vergesog.”

Vroeër het Gerrie aangevoer die waaiers is nooit verskuif nie, want as Oscar hulle geplaas het waar hy beweer hy het, sou hulle sy pad versper het.

En die jeans kon ook nie op ’n duvet op die vloer gewees het nie.

Oscar het geantwoord die polisie het die voorwerpe rondgeskuif voor hulle die foto’s geneem het wat as bewysstukke in die hof dien, waarop Gerrie sarkasties gevra het of hy ’n sameswering vermoed.

Die gesoute aanklaer probeer die simpatieke prentjie aftakel wat Oscar se duur regspan van die atleet geskets het as ’n man wat weens sy gestremdheid kwesbaar was en berouvol is dat hy die vrou geskiet het wat hy liefgehad het.

Oscar het in die week getuig: “Ek was smoorverlief op haar.” Maar Gerrie het gesê  transkripsies van teksboodskappe tussen die twee toon hy was ongevoelig teenoor Reeva se gevoelens en het haar nooit verseker dat hy haar liefhet nie.

Hy het aangevoer Oscar gee net vir homself om en huil nie gereeld in die beskuldigdebank omdat hy berou het nie, maar omdat hy in die moeilikheid is.

Toe Oscar Vrydag emosioneel raak, het Gerrie gevra hoekom.

“Want ek het die mens verloor vir wie ek omgegee het. Ek weet nie hoe mense dit nie verstaan nie,” het Oscar in ’n bewende stem gesê.

Die saak gaan Maandag voort.