Die polisie doen 'n beroep op enigiemand met inligting om na vore te kom nadat 'n bejaarde vrou se lyk in die Blesbokspruit naby Heidelberg gevind is.

Die lyk is Vrydagmiddag gevind, maar geen vroue is onlangs in die area as vermis aangemeld nie, bevestig kapt. Thivhulawi Tshilate, 'n polisiewoordvoerder, aan Huisgenoot.

Die lyk, wat reeds taamlik ontbind is, is glo opgemerk toe iemand naby die oewer grasgesny het. Duikers het daarna die lyk uit die water gehaal.

Die vrou is glo sowat 1,7 meter lank en het lang, grys hare. Sy is gevind met 'n swart langbroek en bruin bloes met kolle aan.

Enigeen met inligting word gevra om speur.sers. Archibald Mthembi by 016 341 5175 of 082 561 0450 te skakel.