Die departement van basiese onderwys oorweeg dit om die vraag oor babaverkragting wat in die matriekdramavraestel was, buite rekening te laat.

“Die departement sal ’n steekproef van die antwoordstelle uit al nege provinsies nasien om te bepaal of leerders enigsins benadeel is,” sê die departement.

Dit volg ná verskeie berigte dat leerders, onderwysers en ouers ongelukkig is oor ’n vraag waarin leerders moes verduidelik hoe hulle ’n verkragting sou uitbeeld met ’n brood, wat simbolies van ’n baba is, en besemstok (die verkragter).

“As daar bewyse is dat kandidate geraak is deur die vraag, sal dit uitgesluit word en riglyne vir merk van die vraestel, sal ooreenkomstig aangepas word.”

Die eksamenvraag het oor Lara Foot Newtons se drama Tshepang gehandel en is op ware gebeure gegrond. Die doel van die vraag was om leerders se begrip oor die konsep van ’n “aksiemetafoor” te toets.

Die departement het verduidelik dat afsku en die afkeer wat die gehoor ervaar, bereik word sonder dat daar tot die daad oorgegaan word. “Nêrens word daar van die kandidate verwag om letterlik die verkragting van ’n nege maande oue baba te beskryf nie. Die eksaminators en moderators wat verantwoordelik was vir die opstel van die vraag, het gehou by die voorskrifte van die leerplan.”

Van die onderwysers op Huisgenoot se Facebook-gemeenskap, Kopskuifonnies, het hul mening oor dié vraag uitgespreek.

"Dis belaglik!" meen Arista Sheingold. "Dis ’n skending van die kind se regte om hulle bloot te stel aan sulke gruwel!"

Joshua Ziegbert-Carstens meen egter dat dit baie van ’n leerder verg om dié vraag te beantwoord, is juis die punt. "In drama word akteurs opgelei. Moet alle kuns wat ontstel nou verbied word omdat sekere mense nie daarvan hou nie?

"Ons kan nie alles onder die mat vee wat aaklig is nie. Dis juis die punt van kuns: verander kwessies in die samelewing."

Bron: Sapa