Dit kan nie maklik wees om ’n vrou te wees in die manswêreld van krieket nie. Maar Natalie Germanos sê al het sy aan die begin gesukkel om respek af te dwing in haar werk as een van SABC Radio se krieketkommentator, dink sy mense sien haar uiteindelik as ’n gelyke van haar manlike kollegas. Ons het met haar gesels oor haar lewe in daardie manswêreld

Watter struikelblokke moes jy oorkom om te wees waar jy vandag is?

Daar was vele, aangesien ek ’n vrou is in ’n sportwêreld wat deur mans oorheers word.

Wanneer hulle ’n vrouestem hoor, wonder hulle dadelik: Wat weet jy van krieket af as jy dan nog nooit op die topvlakke gespeel het nie?

En ek het natuurlik nie, maar ná baie harde werk kon ek dit oorkom en hul respek afdwing. Hopelik hou die meerderheid mense nou van my kommentaar.

Intimideer die feit dat krieket ’n manswêreld is jou soms?

Dit het aan die begin. Ek was so bekommerd oor wat ek sê en of mense met my saamstem. Ek was baie senuagtig toe ek begin, en wanneer my manlike kollegas nie met my saamgestem het nie, het ek sommer self begin dink ek is seker verkeerd.

Maar uiteindelik nadat ek baie tyd saam met hulle deurgebring het, het ek besef elkeen is geregtig op sy eie mening. Ek voel nou baie rustiger. Gelukkig het ek van die begin af vir Kass Naidoo as ’n rolmodel gehad.

Het jy ooit krieket gespeel? (Debbie Kuhn) 

Ja, ek het op skool- en klubvlak gespeel. Ek het ook krieket in Argentinië gespeel en selfs afgerig.

Wie is jou gunsteling-krieketspeler?

Jacques Kallis. Hy is so ’n talentvolle en professionele speler. Die feit dat hy kan boul, kolf en veldwerk doen, is fantasties. Hy is iemand na wie ek opsien.

Wie is jou gunsteling- krieketkommentator?

Glen Mitchell. Hy is ’n radiokommentator vir ABC in Australië. Hy is ’n veelsydige ou wat nie net krieketkommentaar lewer nie, maar ook oor die Olimpiese Spele en Australiese voetbal. Ek wil ook graag my net wyer span.

Dink jy die deur is nou oop vir meer vrouekrieketkommentators?

Beslis. Ek het Kass en Donna Simmons van die Wes-Indiese Eilande, wat al baie lank oor die radio kommentaar lewer, gehad om na op te sien en ek hoop ek is daardie persoon vir ander vroue.