Niemand het behoorlik ondersoek gedoen oor wat aanleiding gegee het tot die oproep wat sy seun, Stephan, na bewering aan die Kaapse kerksakeverslaggewer Jean Oosthuizen gemaak het nie.

So het die afgetrede predikant dr. Johann Ernst Donderdag gesê ná mediaberigte oor laatnagoproepe wat Jean ontvang het. Jean het opnames van twee oproepe op Dinsdag 4 April op Facebook geplaas.

In een van die stemgrepe wat van die oproepe gemaak is, sê iemand: “Jacques, jy is die grootste p*** wat ek al ooit op radio gehoor het.”

Jean, wat ’n dekade lank die Kerkbode se nuusredakteur was, het die oproep glo Dinsdag om 03:30 ontvang. “Het enigiemand al navraag gedoen waaroor Jean praat? Hoekom het my seun opgetree? Want dit gaan oor my goeie naam,” het Johann gesê.

“Jy sal sien my seun verwys na goed wat Jean kwytraak oor my vrou,” het Johann telefonies aan Huisgenoot gesê. Oor wat presies Jean na bewering oor sy vrou kwytgeraak het, wou hy nie uitbrei nie.

Die oproepe kon opgeneem word danksy ’n app op Jean se foon. ’n Ander app het gehelp om die nommer te identifiseer as dié van Stephan Ernst.

Die beller sê onder meer: “As jy in die aand langs jou vrou, of ek hoop jy het vrou, of ’n hond, jy het seker nie ’n vrou nie, slaap, hoop ek die hond ****** verkrag jou, want dis wat jy verdien. Ek hoop jy slaap vanaand so *** dat jou gewete jou vir die res van die jaar pla.”

In die ander stemgreep sê die beller Jean is ’n grap. “Jy is ’n ongelooflike groot grap. Jy sit agter die sosiale media en jy is bereid om goed te sê. Jy, Jean Oosthuizen, het nog nie een keer die volle waarheid verklaar nie. Weet jy wat die verskil is tussen my en my pa? Hy het respek vir jou. Weet jy wat, ek het nul respek vir jou.”

Nadat Jean antwoord dat hy niks het om vir die beller te sê nie, antwoord die stem: “Jy is die grootste joke. Ek dare jou, gaan sit hierdie op enige sosiale media, want ek is ’n aap, maar ek is ’n ou aap, my vriend. Jy is nie goed grootgemaak nie, want as jy was, het jy nie gedoen wat jy gedoen het nie. Luister mooi, Jean Oosthuizen, as jy weer vir my ma of my familie of vir my gesin ’n doodsdreigement stuur . . . Jy’t nie ’n idee met wie jy te doen het nie. Jy kan bly wees my pa het respek vir die lewe; ek het nie,” sê die stem.

Nadat Jean die stemnotas op Facebook gelaai het, het Johann op Facebook verklaar ’n sekere stem-“clip” wat die ronde doen, nie die stem is van sy seun, Stephan, nie.

“Die clip word deur Jean Oosthuizen versprei, wat reeds ’n geruime tyd ’n persoonlike vendetta teen my en my gesin voer. Sy optrede is uiters gemeen en lasterlik en traumatiseer selfs my kinders, wat vir die eer van hul pa en gesin opkom.

“Sy optrede het reeds groot skade vir ons veroorsaak en beproef ons tot die uiterste, veral omdat dit vals, leuenagtig en ongegrond is. Ongelukkig is dit wie hy is en waartoe hy in staat is. Ons maak staat op lesers se gesonde oordeel en beter insig. Jammer vir die aanstoot wat dit gee,” lui die inskrywing.

In reaksie het Jean ontken dat hy ooit iets oor Johann se vrou gesê het.

“Ek weet nie eens wat sy vrou se naam is nie, wie sy is of hoe sy lyk nie. Die enigste goed wat ek geskryf het, is goed wat ek in Rapport geskryf het. Dat ek iets oor sy vrou kwytgeraak het, is absolute bog,” het Jean gesê.

Stephan het in reaksie gesê hy het “niks om nou verder te sê nie”.