Die soektog na vlug MH370 duur voort.
Twee voorwerpe wat moontlik verband hou met die vermiste Malaysia Airlines-vliegtuig is in die suide van die Indiese Oseaan gesien, het die Australiese eerste minister, Tony Abbott, Donderdag gesê.

Tony het aan die parlement gesê dat daar byna twee weke ná die vliegtuig se verdwyning “nuwe, geloofwaardige inligting” aan die lig gekom het. Die vliegtuig en al 239 mense aan boord het op 8 Maart verdwyn nadat dit van Kuala Lumpur vertrek het onderweg na Beijing. Die meeste passasiers was Chinese, en ses was Maleisiërs.

Volgens Tony is ’n Orion van die Australiese lugmag reeds gestuur om ondersoek in te stel na die twee voorwerpe, en nog drie langafstandvliegtuie is op pad.

“Nuwe, geloofwaardige inligting verwant aan die soektog het aan die lig gekom... in die suide van die Indiese Oseaan,” het Tony gesê sonder om die presiese ligging te gee.

Australië het beheer geneem van die soektog in dié groot, afgeleë gebied.

“Die Australiese Maritieme-veiligheidsowerheid (AMV) het inligting ontvang wat gegrond is op satellietbeelde van voorwerpe wat moontlik met die soektog verband hou,” het Tony gesê. Hy het ook gesê dat hy die Maleisiese eerste minister, Najib Razak, in kennis gestel het.

“Spesialis-analise van die satellietbeelde het onthul dat twee voorwerpe ontdek is wat moontlik met die soektog verband hou.”

Hy het egter gewaarsku teen enige oorhaastige gevolgtrekkings. “Ons moet in gedagte hou dat dié voorwerpe moeilik opgespoor gaan word, en daar bestaan ’n moontlikheid dat dit nie verband hou met die soektog na die vliegtuig nie,” het Tony bygevoeg.

’n Bron na aan die ontdekking het aan The Australian gesê die vonds is “geloofwaardig” en in lyn met “wat ’n mens gewoonlik onder sulke omstandighede sou vind”.

Die AMV het om halfsewe plaaslike tyd in Canberra ’n perskonferensie hou.

Die Maleisiese regering glo die vliegtuig het doelbewus van sy roete afgewyk en dan etlike ure gevlieg, óf noord na sentraal-Asië óf na die suide van die Indiese Oseaan.

Owerhede in Kuala Lumpur het Maandag gevra dat die Australiese owerhede die “suidelike vektor” van die soektog hanteer.

Vliegtuie van Australië, Amerika en Nieu-Seeland deursoek van Dinsdag ’n groot deel van die suide van die Indiese Oseaan, en konsentreer op ’n gebied van sowat 305 000 km2 ongeveer 2 600 km suidwes van Perth.

Australiese amptenare het Dinsdag gesê die soektog is soos om ’n “naald in ’n hooimied” te soek.

Die vliegtuie is nie toegerus om onder water te soek nie, en die kanse is skraal dat hulle enige wrakstukke op die oppervlak sal kry.

Die moontlike deurbraak het gekom nadat pres. Barack Obama van Amerika die soektog ’n “topprioriteit” vir sy regering gemaak het. Maleisië het bewyse met die FBI gedeel in ’n poging om die vermistes se naasbestaandes se woede oor die gebrek aan inligting te laat bedaar.